’n Volledige span erfenis-spesialiste, ingenieurs en argitekte is op die KSUT-kampus in Wellington volstoom aan die gang om die Goodnow-saal tot sy volle glorie te herstel.
So lui die terugvoer van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se woordvoerder, Lauren Kansley.
Sy sê dié span bestuur hierdie projek tot voltooiing, wat na verwagting in April sal wees.
Dit volg nadat ’n plaaslike inwoner, Johan Rademeyer, weer antwoorde in verband met die pragtige erfenis se behoud en herstel van die universiteit verlang het.
Rademeyer is van mening die herstelwerk van dié gebou, wat tydens studente-oproer in 2016 aan die brand gesteek is, sloer te lank.
“Ons erken dat die projek baie langer geneem het as wat verwag is en dit het inwoners, die personeel en studente van KSUT, wat nie die volle gebruik van hierdie historiese gebou kon geniet nie, gefrustreerd gelaat,” meen Kansley.
Aanvanklik is berig dat herstelwerk aan die dak van die Goodnow-saal die eerste prioriteit was en dat dit teen die einde van Desember 2022 voltooi sou word.
Kansley verduidelik die dak en probleme met die boog het egter spesialis-aandag vereis, wat tot verdere vertragings bygedra het.
“Maar ons is bly om te sê ons wag nou nog net op die hoof-staalbalk vir die dakstruktuur, en sodra dit hierdie maand geïnstalleer is, sal die res van die dakkonstruksie vinniger voortgaan.
“Die herstel en restourasie van interne dekoratiewe hout, balke, panele, deure, ensovoorts word beplan met herversiering en verfwerk wat na verwagting teen die middel van Februarie sal begin.”
Ten slotte, sê Kansley, sal die universiteit en die span op die perseel hul bes doen om hierdie projek so gou as moontlik af te handel namate belangrike instandhoudingswerk aan die struktuur terselfdertyd gedoen word.





