Dr. Imtiaz Sooliman glo in die soort liefde, deernis en menswaardigheid wat rasse-, kulturele- en gelowige grense oorskry.Foto: Proudly Muslims of SA

Credit: SYSTEM

Die naam dr. Imtiaz Sooliman duik die afgelope jare oral op. As daar nood is in ’n oorlog, hongersnood, die droogte in die noordelike gebied van die land en meer onlangs die verwoestende vloed in KwaZulu- Natal, is hy daar – ’n filantroop in murg en been wat aan die noodkreet van alle Suid-Afrikaners in tye van verlies en swaarkry gehoor gee . . . en ook die res van die wêreld.

Sy werk word beter geken deur die Gift of the Givers-stigting wat die afgelope drie dekades al bestaan. Dié organisasie sonder winsbejag het onlangs hulpbronne en verligting in KwaZulu-Natal gebied toe die provinsie weens oorstromings in April erge verlies en skade gely het.

Maar wie is Imtiaz Sooliman, die mens?

Sooliman is in Potchefstroom gebore en het in 1978 na Durban verhuis om sy skoolloopbaan by die Sastri College te voltooi. Hy het hom in 1984 as mediese dokter aan die Natal Medical School gekwalifiseer.

Dr. Sooliman het sy gemeenskapsdiens by die King Edward-hospitaal voltooi, waarna hy na Pietermaritzburg verhuis het om sy privaat praktyk in 1986 te stig, maar sy lewenspad het ’n paar jaar later heeltemal van koers verander.

Maatskaplike werk was sedert die begin van sy loopbaan hoog op sy prioriteitslys toe hy by die Islamitiese Mediese Assosiasie (Imasa) betrokke geraak het. Sooliman het in die Golfoorlog sowel as die katastrofiese sikloon wat Bangladesj in 1991 getref het, bystand gelewer – om net ’n paar te noem.

Sy toekomsplanne het verander toe hy die geestelike kant van Islam in Turkye ontdek het. Dié kosbare les, wat hy tot vandag daagliks toepas, behels dat liefde, deernis en menswaardigheid enige ander wet in die Islamitiese geloof oorheers.


Gift of the Givers
is kort daarna – in Augustus 1992 – gestig nadat hy die mediese veld as private dokter agtergelaat het. Tog het dié agtergrond waardevolle kennis en krag in sy humanitêre uitreikings gebied.

Sooliman pas liefde, deernis en menswaardigheid toe om daadwerklike impak en bystand te lewer aan mense in ongeveer 22 lande buiten Suid-Afrika, ongeag hul kultuur, taal, ras of geloofsoortuigings.

Hoewel hy daadwerklike verligting in tye van nood en dood aan hordes mense oor die wêreld heen verleen, pas hy nie dié filosofie op die individu toe nie. In ’n onderhoud wat die Daily Maverick in 2020 aan die begin van die Covid-19-pandemie met Sooliman gevoer het, sê hy eerder as om homself sosiaal van mense te distansieer, doen hy dit eerder op ’n emosionele vlak.

“Ek sal my personeel raadpleeg om nooit aan een mens geheg te raak nie. Jy kan jammer voel vir die mense van Sirië, of die kinders van Sirië, maar moenie jammer voel vir die individu nie.

“Moenie jammer voel vir Ishmael, Ellen, Johnny of Dumisani nie. Die oomblik wat jy dit doen, is jy dood.”

Hy het verder vertel hoe sy vrou dink hy is ’n alien. “My vrou, Zorha, glo nie dat ek van dié wêreld afkomstig is nie . . . ek’s té koud,” spot hy.

“Die doel is om deernis in die algemeen te hê, maar nie op ’n individuele-vlak nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article