Boishaai se krieket-blitsbroers, Johan, Gysbert en Christaan Wege. Foto: Lise Beyers


Die Hoër Jongenskool Paarl se Wege-broers het geskiedenis gemaak toe dié drie almal einde verlede jaar en vroeër vanjaar vir die skool se eerste krieketspan gekolf het.

Die broers, Gysbert (17) en tweeling Christiaan en Johan (15), sê hulle speel reeds krieket voordat hulle verstand gekry het.

Gysbert het reeds naam vir homself gemaak in die anale van skoolkrieket deurdat hy die afgelope seisoen die krieketrekords by Boishaai behoorlik laat spat het. In die 2021-’22-seisoen het hy die hoogste aantal lopies nog vir die skool geslaan – ’n rekord wat hy van 1 131 lopies tot 1 417 verbeter het. Hy het ook verskeie 100-talle op sy kerfstok.

En Saterdag in die Interskole-kragmeting teen Hoërskool Gimnasium het Gysbert vir die 50ste keer vir Boishaai se eerstespan gekolf. Hy is ook die kaptein van die Boland- o.19-krieketspan en het op laerskool, toe hy in Laerskool Durbanville was, vir WP krieket gespeel.

Gysbert speel ook vir die plaaslike franchise-groep, die Cubs, wat bestaan uit die beste spelers van WP, Boland en SWD. Gysbert speel ook CPL-liga. Die CPL is die Cape Town Premier League wat Sondae gespeel word. Dit is gelykstaande aan ’n plaaslike skole-IPL. Hier speel Gysbert vir die Outlaws-span, waar hy ook reeds verskeie 50’s en 100’s geslaan het.

Gysbert het ook ’n kranige boularm en het Saterdag baie goed hiermee teen Gimnasium gevaar.

Christiaan sowel as Johan het ook op laerskool vir WP gespeel en het ook al ’n paar beurte vir Boland gekolf.

Gysbert, wat op nr. 3 kolf, sê hy wil gewis ’n loopbaan in krieket volg. Hy beoog om volgende jaar in ’n sakerigting te gaan studeer, maar sal vir eers op krieket fokus. Hy sê sy grootste droom sal wees om eendag vir sy land te kan speel.

Christiaan is ’n middelorde-kolwer en draaibouler en beoog om ná skool B Rek te studeer.

Johan is ’n veelsydige speler en laat die paaltjies as naatbouler kantel.

Die broers, wat almal in Imhoff-koshuis is, sê hulle is baie besig met hul akademiese en sportkalender en het nie veel tyd vir ’n sosiale lewe nie, maar geniet dit wel om ’n bietjie tennis en gholf in te pas en dan luilekker met vriende te verkeer.

’n Mens gaan die naam Wege gewis vorentoe hoor as dit by krieket kom – veral die naam Gysbert Wege.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article