Foto ter illustrasie. Foto: Argief/Rasaad Adams


’n Nuwe uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste sal volgens die Drakenstein-munisipaliteit binne die volgende drie tot vier maande aangewys word nadat die voormalige direkteur, Gerald Esau, in Augustus verlede jaar ná ’n tugverhoor uit die amp verwyder is.

Intussen hou die munisipaliteit vol dat geen dienste geraak word te midde van die vakante amp nie.

Esau is reeds in Maart verlede jaar geskors, hangende die uitkoms van sy tugverhoor.

Eda Barnard, uitvoerende direkteur vir openbare veiligheid, het intussen in die pos waargeneem.

Seraj Johaar, uitvoerende direkteur vir korporatiewe sake en beplanning, het vandeesweek gesê Esau het teen sy afdanking geappelleer en ’n dispuut by die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regering Bedingingsraad (SALGBC) aanhangig gemaak.

In reaksie op Paarl Post se vraag oor of Esau geregtig is op enige verdere betalings nadat hy ontslaan is, het Johaar gesê: “Sodra iemand ontslaan is, is daar geen betaling nie. Dit is die rede waarom die saak tans betwis word.

“Die munisipaliteit beoog om die pos binne die volgende drie tot vier maande te vul. Hierdie werwingsproses word deur die regulasies van die munisipale stelselswet gereguleer. Dienslewering by die munisipaliteit is nie negatief geraak nie,” het Johaar aangevoer.

Esau is op 13 Augustus verlede jaar deur die munisipaliteit afgedank ingevolge ’n tugverhoor waartydens hy deur vier aanklagte in die gesig gestaar is. Drie van die aanklagte hou daarmee verband dat hy na bewering ’n komplot gesmee het om van die stadsbestuurder, dr. Johan Leibbrandt, ontslae te raak.

Esau het in Augustus verlede jaar aan Paarl Post gesê daar is geen gronde vir die bewerings nie en dat hy in daardie stadium reeds met sy regsverteenwoordiger in gesprek getree het om teen die uitspraak te appelleer.

Hy is tydens sy verhoor deur die regsfirma Shrives Incorporated verteenwoordig, terwyl Webber Wentzel Attorneys die munisipaliteit verteenwoordig het.

Esau is in Maart verlede jaar voorlopig geskors nadat die munisipaliteit klagtes ontvang het dat hy by ’n sosiale geleentheid vir munisipale amptenare in George glo dronk opgedaag het.

Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir korporatiewe sake en beplanning, het toe gesê Esau se beweerde dronkenskap “het die munisipaliteit se naam in oneer gebring”.

Daar het toe ook drie ander klagtes bygekom, waarin Esau daarvan beskuldig is dat hy in samewerking met ander Drakenstein-werkers van dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, probeer ontslae raak het. Luidens die verhoordokument het Esau na bewering ’n opposisieraadslid in November 2023 in ’n telefoniese gesprek probeer beïnvloed om van Leibbrandt ontslae te raak.

Esau het glo gevra dat die raadslid en sy party die provinsiale LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake moet nader om Leibbrandt se termyn weens sy ouderdom nie te verleng nie.

In die ander twee klagtes word Esau daarvan beskuldig dat hy bewerings van boeliegedrag, teistering en seksuele dade wat glo deur die stadsbestuurder gepleeg is, met munisipale werkers bespreek het, en die stadsbestuurder se naam in oneer gebring het. In die verhoor het dit uitgekom dat Esau glo sy oog op die stadsbestuurder se pos gehad het.

Esau het skuld ontken op al vier beweerde oortredings. Intussen het ’n bron binne die munisipaliteit aan Paarl Post gesê dat die klagtes teen Esau persoonlik van aard was. “Daar is ’n senior amptenaar wat lankal van hom ontslae wou raak. Esau was volgens dié amptenaar heeltemal onbevoeg. Kyk net na die klagtes. Dit is sulke kinderlike bewerings en ek verstaan nie hoe dit op ’n tugverhoor uitgeloop het nie. Dit wys jou net wat mense sal doen om jou uit ’n pos verwyder te kry.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article