Die teenmisdaad-aktivis Ian Cameron het ’n prominente figuur oor die land heen geword wanneer dit kom by bewusmaking oor misdaad en om die polisie aanspreeklik te hou vir dienslewering, maar wanneer hy ontspan, is hy ’n doodgewone en plat- op-die-aarde eggenoot en pa.
Cameron is in Kemptonpark in Gauteng gebore, maar vandag noem hy homself ’n volwaardige Paarliet. Hy en sy gesin het hulle sowat drie jaar gelede in die dorp kom vestig en hy meen dit was ’n goeie besluit.
Cameron, die direkteur van gemeenskapsveiligheid by die organisasie Action Society, werk al jare met misdaad, maar het in 2022 opspraak gemaak toe hy waaghalsig genoeg was om die polisieminister, Bheki Cele, op ’n misdaad-imbizo in Gugulethu oor die veiligheid van inwoners te takel.
Sy werk behels baie aspekte, insluitend bewusmaking van misdaad, die ondersteuning van slagoffers en hul families, om die polisie op hul tone te hou en vele meer.
Cameron se werk is vir hom ’n ware roeping. Hy het probeer om ander loopbaanopsies te volg, maar dit was net nie vir hom nie.
“Ek het skool klaargemaak in Johannesburg en toe het ek by Tukkies gaan swot, maar ek het alles behalwe swot gedoen. Ek het dit ’n bietjie te veel geniet!” sê hy laggend.
“So, ná twee jaar toe skop ek op. Ek het politieke wetenskappe en sosiologie geswot – ek het elke oomblik daarvan gehaat. Ek moes dit nooit gedoen het nie. Dis glad nie my belangstelling nie.
“Ek het toe gaan leer om ’n wildbewaarder te word. Toe het ek in die Waterberg en Pilaansberg gewerk en dit was vir my verskriklik lekker, maar dit het net vir my gevoel daar is nie enige positiewe bydrae in enigiets of enigiemand nie. Ek het toe teruggegaan Pretoria toe en vir Afriforum begin werk. Ek het net ’n groot liefde vir werk rondom misdaad. Ons familie het almal een of ander band met die polisie gehad, dus, as dit nie ’n tannie of ’n oom was nie, dan was dit ’n oupa of ’n ouma. Maar iewers was iemand in die polisie.”
‘Daar moet sukses wees’
By Afriforum was Cameron net betrokke by gemeenskapsveiligheid en nie by enige politieke debat nie. Sy tyd by die organisasie het hom verder gemotiveer en dis toe dat Cameron werk daarvan gemaak het om sy graad in polisiëringswetenskappe aan die Universiteit van Suid-Afrika te voltooi.
“In 2020 het ek daar bedank en toe het ons vir ’n kort rukkie in Limpopo gebly, waar ek vir ’n jaar private werk vir ZZ2 gedoen het. Ek het hulle gehelp met gemeenskapsontwikkeling en veiligheidswerk in daai dele van Limpopo. Toe my werk daar klaar was, het ons hierheen gekom en twee direkteure by Action Society het my gevra of ek hulle nie wil help met ’n ondersoekmodel oor die geslagsgeweld- goed nie. Ek het gesê ek is game, maar ek wil nie net staan en skree nie – daar moet sukses wees.”
Glo dit of nie, sê Cameron – hy is iemand wat nie regtig van konflik hou nie.
“Ek hou nie eintlik so baie van konflik nie. My vrou word baie kwaad vir my, want as sy met my baklei of met my mislik is, al is dit my skuld, dan is ek geneig om net stil te raak.
“Dan pak ek af en ek hou niks daarvan nie.
“En ek hou nie daarvan om met mense vir wie ek lief is of vir wie ek omgee, konflik te hê nie.”
Ongeag hoe min hy van konflik hou, is Cameron net nie iemand wat kan stilbly wanneer hy ongeregtigheid in die gesig staar nie.
“Ek het ’n absolute haat in my vir ongeregtigheid. Ek kan dit nie vat nie. Ek haat oneerlikheid. Ek haat dit as mense om die bos gelei word en ek dink van die huidige werk maak dit my briesend kwaad as mense slegter behandel word omdat hulle arm is. Ek kan dit nie vat nie.
“Mia se ma-hulle is ’n perfekte voorbeeld.
“Daai mense het niks en dan is die polisie die mense wat, pleks van ’n deur af te skop om die persoon aan te keer wat dit gedoen het, eerder public order– polisie stuur om die gemeenskap te polisieer sodat hulle nie riot nie. Dit maak my woedend dat jy die gemeenskap vervreem omdat jy in die eerste plek nie jou werk gedoen het nie. Ek dink wat die land betref is hier ’n massiewe integriteitsvraagstuk. Hier is amper ’n integriteitsverval, en ek kry ’n kick daaruit om daai lig te kan wees.”
Uitdagende werk
Mia (Tamia Botha), na wie Cameron verwys, is die vierjarige meisietjie van Paarl-Oos wat in September 2022 ’n klipgooi weg van haar woning ontvoer en vermoor is.
Cameron meen hoewel hy sy werk geniet, is dit terselfdertyd ook baie uitdagend.
“Dit voel ’n bietjie soos ’n needle in a haystack partykeer. Een uit tien sake is suksesvol – nie omdat ons stop met die ander nie, maar dit vat net lank. Liezel de Jager se saak nou in KwaZulu-Natal is ’n goeie voorbeeld. Ek het amper agtien maande lank baklei dat iemand in hegtenis geneem moet word en ons is nog steeds vir amper drie maande besig met net die borgtogaansoek van die verdagte. Hy het ‘vermoedelik’ sy vrou vermoor. Daar is nie twyfel daaroor nie. Ek ken al die tegniese regsprosesse – ek verstaan dit baie goed. Die punt is eintlik net dit gee my ontsaglike vervulling om dit te kan doen.”
Deur al die traumatiese goed wat hy sien en ervaar in die werk wat hy doen, is dit ook sy geloof in die Here wat hom staande hou.
“Daar is ’n stuk in die Bybel (1 Timoteus 4:12) waar Paulus vir Timoteus sê: ‘Niemand mag op jou neersien (veral jou roeping) omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.’
“Daai stuk het vir my baie beteken – ook Psalm 23:4. Dié twee teksverse is my anker.”
Soos terapie
Hoewel dit nie so lyk nie, het Cameron ’n klein hartjie – veral wanneer dit by sy gesin kom. Hy is die pa van twee pragtige kleuter-dogtertjies en is al sewe jaar met sy vrou, Carla, getroud.
“Ek is ’n gesinsman. Ek het partykeer ook ’n bietjie stilte nodig. Ek moet partykeer kies om te gaan draf of te gaan stap of te gaan fietsry in die berg of iets soos dit. As ek ’n rowwe dag of ’n rowwe iets gesien of beleef het, dan speel ek met my twee pragtige dogtertjies en dit is soos die ultimate terapie wat ’n mens kan kry. Ek is mal oor hulle en my vrou.
“Toe sy met my getrou het, het sy nie eens geweet wie die president is nie. Sy het nie ’n saak nie en leef in ’n ander wêreld. Sy is eintlik ’n apteker. Ons twee verskil soos dag en nag, maar ek is mal daaroor, want dit beteken wanneer ek by die huis is, is ons nie in die konstante stryd betrokke nie, want dit is nogal all-consuming. Mense is regtig gemeen ook – jy kan nie verwag om houe uit te deel en nooit iets terug te kry nie. Jy kry partykeer regtig lelike boodskappe. So, dit is so lekker dat my vrou nie so ingestel is oor die goed nie, want as ons saam is, is ons in ons eie bubble en dit is baie lekker.”
Cameron is mal daaroor om tyd buite in die natuur deur te bring, te braai en potjiekos te maak.
“Ek is baie lief vir skiet – nie jag nie. Ek kan nie jag om my lewe te red nie. Ek moet elke keer ’n oomblik van stilte vir die bok hou. Ek is net glad nie ’n jagter nie, maar ek is mal daaroor om pistool te skiet en om op die skietbaan te wees.”
Carla op haar beurt beskryf haar man as ’n Godvresende man en ’n liefdevolle pa wat altyd daar is vir sy dogters. Hy is ook iemand wat van struktuur en roetine hou.
“Hy is altyd reg om saam met ons dogtertjies te dans en te speel. O ja, hy love musiek. Hy doen letterlik niks sonder musiek by hom of in sy ore nie. Hy ontdek graag nuwe liedjies en is dan baie opgewonde om dit met ons te deel – tot ons spyt, partykeer,” sê sy.
“Ian is ’n mens wat baie introspeksie doen. Hy het ’n klein handjievol mense wat hy in sy binnekring toelaat en is gedurig besig om te klankbord en idees en drome te deurdink.
“Hy is ’n diep mens met innige respek vir sy Skepper. Hy is gemaak om mense te help; hy kan dit nie help nie. Sy gesin is sy prioriteit en hy laat ons altyd veilig voel.
“Hy is sag met ons (sy girls, soos hy sê), hy hanteer ons soos sy prinsesse. Sy gunstelingfliek van alle tye is End of Watch, en hy geniet Britain’s Got Talent baie.”
Of Cameron by die huis tussen sy “girls” is of tussen gemeenskapslede wat hy elke dag probeer help, speel hy sonder twyfel ’n groot rol in die samelewing. En met die vurige passie wat binne-in hom brand, is daar geen keer aan hom en die werk wat hy nog wil verrig nie.





