Die Drakenstein-plaaswag (DFW) pronk vir die volgende drie maande nie net met ’n moderne 4×4- brandweerwa nie, maar sal ook sy goeie werk verder en vinniger kan voortsit wat brandbestryding in die vallei betref.
Die voertuig, wat in Suid-Afrika gebou is, is op die Russiese 4×4 Ural 4320 gegrond. Dit is ’n super-wa wat deur die Russiese weermag gebruik word. Op tuisbodem word die voertuig deur Anco Manufacturing vervaardig, wat spesialiseer in die maak en verskaffing van brandbestrydings- en landboutoerusting.
Anco pak die projek aan met die hulp van Feeler Africa, ’n professionele vurkhyser-, materiaalhanteringstoerusting-verspreider- en grondverskuiwingsmaatskappy.
By die bekendstelling van die brandweerwa, wat tydelik aan DFW oorhandig is, het Daan van Leeuwen Boomkamp, die DFW-bevelvoerder, gesê: “Ons het baie brande hier [in Drakenstein], sowat 300 brande per jaar. Ons het vandag ’n nuwe wapen gekry en die voertuig kan eintlik alles doen waarvan ons gedroom het.”
vir drie maande getoets
André Scheepers, die besturende direkteur van Anco, het al die pad van Piet Retief in Mpumalanga gereis om die bekendstelling en oorhandiging van die voertuig by te woon. “In hierdie stadium is dit ’n demonstrasiemodel wat ons tesame met Feeler Africa, die invoerder van die Russiese Ural-vragmotor wat redelik nuut en uniek in die land is, ontwikkel het. Ons het die projek saam met hulle aangepak en ’n nuwe vuurvegter-eenheid vir tipiese bos- en veldbrande in Kaapse toestande ontwikkel.”
Scheepers sê hulle het dit goedgedink om die sleutels vir ’n tydperk aan ’n bekwame span te oorhandig eerder as om dit net te wys en uit te stal.
“Ons het uiteraard Drakenstein-plaaswag gekies om die voertuig vir drie maande in werklike toestande te beproef. Die hele idee is, nadat dit [die brandweerwa] klaar is, wanneer die grootste gevaar en vuurseisoen verby is, dat dit so [deur die land] terugry. Ons gaan dit vir ander kliënte ook gee en ná ’n jaar of so sal ons die voertuig in die mark sit en dit verkoop.”
Scheepers sê met die ontwerp van die super-wa het hulle aan alles gedink, maar die terugvoering van DFW ná die drie maande sal hulle ook help om die produk verder te verbeter en te ontwikkel. Die maatskappye het die brandbestrydingsorganisasie, ’n organisasie sonder winsoogmerk, uitgedaag om die voertuig tot die uiterste te beproef.
baie slaankrag
Die voertuig is uniek in die Suid-Afrikaanse mark omdat baie 4×4- kommersiële voertuie baie beperk is en die meeste “sagte 4×4’s” is, sê Scheepers. Anco en Feeler Africa het die voertuig ontwerp sodat dit in die moeilikste toestande in die wêreld bedryf kan word. Dit is ook hoekom die twee maatskappye die voertuig benoem het as geskik vir tipiese veld- en bosbrande.
Scheepers sê die voertuig het verskeie moderne eienskappe. “Die voertuig is toegerus met ’n afstandbeheer-buffermonitor wat jy uit die sitplek kan beheer – aan- en afskakel – en in die ry kan gebruik. Dit is ’n groot voordeel vir veelvuldige toepassings wanneer jy groot gebiede moet dek. Dit is in die geval van ’n tekort aan hande ’n baie nuttige hulpmiddel om te hê. Dit [die voertuig] kan ’n groot afstand dek, met baie groot slaankrag. Dit kan groot vure bitter vinnig platslaan.”
Die voertuig het ook ’n skuimeenheid wat water bespaar deur ’n fraksie daarvan te gebruik, maar ook om vure vinniger te blus. In Engels is dit bekend as die Compressed Air Foam System (CAFS). Dit is in Suid-Afrika aan die hand van ’n Amerikaanse idee ontwikkel. Scheepers sê gewoonlik word sowat 400 liter per minuut deur ’n brandweerwa se voorste bufferspuitstuk uitgelaat. Die tenk is dan binne sewe minute leeg.– Vervolg op bladsy 2.




