Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se Relay For Life is ’n unieke gebeurtenis wat aan elkeen in die gemeenskap die geleentheid bied om aan die stryd teen kanker deel te neem.

Dit verteenwoordig ook die hoop dat diegene wat die stryd teen kanker verloor het, nooit vergeet sal word nie; dat diegene wat kanker in die gesig staar, ondersteun sal word; en dat kanker eendag oorwin kan word.

En binnekort, op 24 en 25 Februarie, vind die plaaslike weergawe hiervan by die Boy Louw-terrein in die Paarl plaas – deurnag van 18:00-06:00.

Cansa

Wat is Relay for life?

Relay For Life is ’n prettige, deurnag-spangeleentheid wat die bewusmaking van kanker verhoog en ook baie nodige geld insamel wat vir die stryd teen kanker benodig word. Die gebeurtenis word gedryf deur vrywilligers en is die “eiendom” van die gemeenskap. Tydens die Relay verbind spanne van 10-15 vriende, bure, families en medewerkers hulle om ten minste een lid van die span te alle tye om die baan te laat stap, want kanker slaap nooit nie. Elke span betaal ’n registrasiefooi en elke spanlid word aangemoedig om ’n teikenbedrag in te samel.

Spanne slaan rondom die baan kamp op. Die Relay For Life-geleentheid word geopen deur die oorwinnaars se ere-rondte. Ná sonsondergang word kerse in luminaria-sakkies rondom die baan aangesteek. Almal vergader dan om hulde te bring aan diegene wat die stryd teen kanker verloor het of kanker onder lede het en saam te juig met hulle wat die stryd oorwin het.

Gedurende die hele nag geniet almal die vermaak, pret en samesyn in ’n feestelike atmosfeer. Elke gemeenskap se Relay For Life is spesiaal en is deel van ’n nasionale en internasionale beweging in die stryd teen kanker.

Die sukses van hierdie projek hang natuurlik af van die gemeenskap, aangesien Kansa baie afhanklik is van hul ondersteuning.

Ondernemings word ook genooi om deel te neem aangesien hierdie ’n goeie spanbouprojek is en vir ’n baie goeie doel is.

Inskrywings kos R750 per span van tot 15 mense.

Toegang kos R20 vir dagbesoekers en R10 vir kinders onder 12.

. Kontak Esmeralda Booysen by 079 608 3391 of ebooysen@cansa.org.za (Kansa) of Louise Goslett by 072 782 9704 of louisegoslett@gmail.com (Relay For Life Paarl) vir enige navrae of nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article