Die jaarlikse derby, wat ’n opwindende tyd vir leerders en ondersteuners van Klein Nederburg Sekondêr en New Orleans Sekondêr moes wees, het die afgelope week in ’n bietjie van ’n teleurstelling ontaard.
Eers moes verskeie wedstryde afgestel word, asook die samekomsaande by McDonald’s in Jan van Riebeeck-rylaan– alles weens verlede week se taxi-staking in die Wes-Kaap.
En toe, op die groot dag van die hoofwedstryd, wat op Saterdag 12 Augustus by die Faurestraat-stadion plaasgevind het, was ondersteuners van al twee skole erg omgekrap toe die embleme van die Hoër Jongenskool Paarl en die Hoërskool Gimnasium Paarl en hul borge nog op die rugbyveld sigbaar was – dit nadat dié twee skole se interskole voorverlede naweek ook by die stadion plaasgevind het.
Die situasie is vererger toe werkers van die Drakenstein-munisipaliteit in ’n poging om daarvan ontslae te raak, kalkverf oor die embleme gegooi het.
’n Betroubare bron wat die naweek se derby bygewoon het, sê ondersteuners was baie omgekrap toe die kalkverf op die veld gestrooi is.
“Die munisipale werkers moes elke keer voordat die fluitjie vir ’n nuwe wedstryd geblaas word, die embleme weer met kalkverf toegooi, want dit het aanmekaar tydens die spel afgekom. Die kalkverf is elke keer voor ses van die rugbywedstryde aangewend.”
Ondersteuners het vinnig op hul selfone geklim om hul misnoeë oor hoe die kinders met kalkverf besmeer is, op sosiale media te deel. Baie het die munisipaliteit daarvan beskuldig dat hy teen dié twee skole diskrimineer.
Die groot vraag was egter of Klein Nederburg, wat vanjaar die derby aangebied het, wel vooraf met die munisipaliteit by die stadion en die rugbyveld inspeksies gedoen het. Navrae is aan Klein Nederburg gerig, maar die skool sê hy wil nie in hierdie stadium enigiets sê oor wat gebeur het nie.
’n Lid van die gemeenskap, wat goeie bande met al twee skole het, sê hy voel wat gebeur het, was “uiters vernederend” vir die leerders.
“Een meisie se maats moes haar aan haar voete oor die veld sleep sodat sy haarself skoon kon kry [van die kalkverf]. Die kinders se ouers moes toekyk hoe hul kinders soos wit spoke oor die veld hardloop.”
Carlyn Oppelt, skoolhoof van New Orleans, sê sy het nie onmiddellik opgemerk wat aan die gebeur was met die kalkverf nie.
“Ek voel ook dat ons nie die organiserende skool was nie, dus weet ons nie watter reëlings met die munisipaliteit getref is nie. Die taxi-staking het ’n groot invloed op besluite gehad en dit sal dus baie onverantwoordelik van my wees om enige mening te lug. Al hierdie voorvalle het ’n wrang smaak gelaat en die fokus moes op die spelers van die dag wees. Ek glo Klein Nederburg het die antwoorde aangesien hulle direk met die munisipaliteit onderhandel het.”
Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, sê die munisipaliteit stel elke jaar sy velde vir plaaslike derbies beskikbaar en oorhandig die bestuur van munisipale fasiliteite aan die organiserende skole. Hy sê die skole self doen aansoek vir permitte om die Faurestraat-stadion se veld te gebruik. Hy sê voorts dat munisipaliteit is net verantwoordelik vir die sny van die gras, die skoonmaak van geboue en die veiligheidsertifikate vir die gebruik van die betrokke fasiliteit.
“Dit was die verantwoordelikheid van die betrokke skole wat die vorige week die veld gebruik het om die voorbereiding van die velde voor en ná die wedstryde te bestuur. ’n Suksesvolle vergadering met al die rolspelers is op 15 Augustus gehou om die aangeleentheid te bespreek. Waardevolle lesse is geleer en die munisipaliteit sal voorts verseker dat soortgelyke voorvalle nie herhaal word nie.”





