Die Roses se kaptein, EL Shaun Davids, en Newton se kaptein, Colin April, sê hul spanne is slaggereed vir die derby.Foto’s: Charl Williams


Een van vanjaar se grootste klubrugbywedstryde in die vallei vind hierdie Saterdag plaas wanneer twee gedugte plaaslike spanne, Newton Bombelas en Roses, mekaar in hul jaarlikse derby pak.

Die Sanlam-Boland Rugby Days-bekendstelling het op 7 Augustus by Diemersfontein Country & Wine Estate in Wellington plaasgevind.

Roses United en Newton RVK pak mekaar eerskomende Saterdag (17 Augustus) in hul jaarlikse derbywedstryd op Pelikaanpark in Wellington.

Newtons was die vorige twee kragmetings aan die wenkant, maar albei kapteins is van mening dat vorige wedstryde se uitslae min gewig dra.

Die derbywedstryd lok altyd baie belangstelling uit en is ’n geleentheid om as die Witsentraal-kampioen gekroon te word, of ten minste onder die top-twee-spanne op die punteleer te eindig vir ’n plek om later vanjaar in die Top-12-kompetisie deel te neem.

Herman Bailey, voorsitter van Roses, moedig alle ondersteuners van beide klubs aan om die wedstryd saam met hulle te kom geniet. Hy sê ook dis ’n groot eer en voorreg om die eerste Sanlam-Boland-klubrugbyderby-dag in Wellington te kan aanbied.

Bailey verseker die veiligheid van spelers en toeskouers is hul grootste prioriteit.

“In hierdie stadium het ons reeds met die Wellington- polisie, onder leiding van kol. Johan Barkhuisen, in verbinding getree. Die versoek is gerig vir addisionele sigbaarheid van die polisie gedurende die dag om en binne die stadion.

“Ons vertrou dat hierdie versoek vrugte sal afwerp om veiligheid te versterk, nadat ons ook ons veiligheidsplan aan die polisie moes voorhou. Sulke wedstryde het die vermoë om jong manne die geleentheid te bied om hul talent vir die dorp ten toon te stel. Dit sou baie selfsugtig wees indien ons ons jong manne as gevolg van wangedrag van hierdie geleentheid ontneem.”

Die hekke open om 11:00.

Toegang beloop R20 vir volwassenes, R10 vir kinders en R10 vir motors. Pensioentrekkers, Boland-bestuurslede en Kavaliers-spanlede krygratis toegang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article