Die toename in onwettige immigrasie plaas nie net druk op die belastingbetaler wat sowat R2 700 vir elke onwettige immigrant se deportasie tot die staatskas moet toevoeg nie, maar selfs op plaaslike vlak sukkel polisiekantore soos die een in die Paarl, wat ook as ’n aanhoudingsel vir onwettige immigrante identifiseer is.
Kol. Zithulele Xela, waarnemende bevelvoerder by die Paarl-polisiekantoor, het verlede week op ’n openbare vergadering onthul dat die aanhouding van onwettige immigrante die werksaamhede by dié kantoor beïnvloed.
“Alle onwettige immigrante wat hier in ons distrik aangekeer is, word hier by die Paarl-polisiekantoor aangehou,” het Xela op die vergadering gesê.
“Hierdie het gewis ’n uitwerking op ons mannekrag, want baie van hierdie onwettige immigrante word vir etlike maande in ons selle aangehou voordat hul sake verwerk en hulle dan uiteindelik gedeporteer word.
“Dit beïnvloed ons begroting en ons mannekrag. Waar nodig, moet ons aan hul behoeftes voorsien soos om hulle na hospitale te neem. Dit is ’n reuse-uitdaging.”
’n Senior polisiebeampte in die Wynlande het by verdere navraag aan Paarl Post gesê altesaam drie polisiekantore in die Wynland-distrik is vir dié doel identifiseer.
“Die Paarl, Stellenbosch en Franschhoek se polisiekantore word gebruik om onwettige immigrante aan te hou,” sê dié senior beampte
“Ons moet dikwels baie moeite doen om die selle in so ’n toestand te kry dat dit aan binnelandse sake se vereistes voldoen.
“Dit kos ons baie.”
Dr. Leon Schreiber, die minister van binnelandse sake, het verlede maand in antwoord op ’n vraag deur die EFF-parlementslid Thapelo Mogale onthul dat die departement van binnelandse sake meer as R52 miljoen in vyf maande uitgegee het om onwettige immigrante te deporteer.
Schreiber het bevestig dat 19 750 ongedokumenteerde immigrante teen ’n koste van R52 817 656 gedeporteer is.
Hy het bygevoeg dat sy departement op koers is om een van sy sterkte jare aan te teken wat die bestuur van onwettige immigrasie betref.
“Hierdie jaar is ons op koers vir ’n toename van 164% vergeleke met die 2022-’23-boekjaar, wat slegs 22 436 deportasies gehad het,” sê Schreiber.
Om onwettige immigrasie te bekamp, het Schreiber vroeër die herinstelling van die immigrasie-adviesraad aangekondig, asook planne om inspeksies by sakeondernemings uit te brei.
Die doel van hierdie inisiatief is om die indiensneming van ongedokumenteerde immigrante aan te durf en raad te gee oor uitdagings soos die toekoms van die omstrede Zimbabwiese vrystellingspermit.
Volgens Schreiber sal dit beteken dat inspeksies by restaurante, winkels, plase en myne landwyd met meer as 50% verhoog gaan word, met gesamentlike optredes wat die polisie en ander staatsdepartemente sal insluit.





