Die nasionale departement van water en sanitasie (DWS) het op 26 en 27 Julie ’n openbare konsultasiewerksessie met die watergebruikers van die Berg-Olifants-waterbestuursgebied gehou.

Dié Berg-Olifants-waterbestuursgebied sluit munisipaliteite soos Kaapstad, Stellenbosch, Drakenstein, Saldanhabaai, Matzikama, Cederberg en Bergrivier in.

Elke jaar stel die departement nuwe waterverbruikstariewe aan verbruikers voor, met die voorgestelde tariewe vir 2024-’25 wat van April 2024 sal geld.

Volgens die departement se Thembisa Torch sal die voorgestelde verhoging spesifieke sektore teiken, soos mynbou, nywerheid en energie, landbou en bosbou.

Die binnelandse mynbou- en nywerheidsektore het ’n voorgestelde verhoging van 6,26 c/m³, terwyl die landbousektor en alle gevestigde besproeiingsboere ’n voorgestelde verhoging van 3,01 c/m³ in die gesig staar.

Die departement het ook verbruikers ingelig oor die herinstelling van die afvalstortingsheffingstelsel vir nywerhede, myne en munisipaliteite.

Kommentaar van verbruikers binne die Berg-Olifants-waterbestuursgebied kan teen 16 Augustus aan die DWS gestuur word, wat op vergaderings op 16 en 24 Augustus bespreek sal word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article