Die Portland Readymix-saga duur voort en verlede Donderdag (16 November) is ’n vergadering weer eens gehou, waar onder andere die sementfabriek, raadslid Johan Liebenberg en ander belanghebbendes teenwoordig was.
Die saga duur nou al langer as 10 jaar voort, met De Zoete-inval-inwoners wat kla oor die sementstof en geraas van die Portland Readymix-sementfabriek.
Ná jare sloer die onderhandelinge tussen die fabriek en die Drakenstein-munisipaliteit steeds, met dié twee partye wat nie tot ’n blywende ooreenkoms kan kom wat alle partye tevrede maak nie.
Die vergadering is bygewoon deur lede van die burgemeesterskomitee vir die toepaslike portefeuljes, die wyksraadslid, ’n verteenwoordiger van Portland Readymix, asook ’n verteenwoordiger van die inwoners van De Zoete-inval, volgens Seraj Johaar, uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste aan die Drakenstein-munisipaliteit.
Volgens Liebenberg, ’n raadslid van Suid-Paarl en Courtrai en wat saam met inwoners van De Zoete-inval veg vir ’n ooreenkoms tussen die Drakenstein-munisipaliteit en Portland Readymix, het verlede week se vergadering op ’n goeie noot afgesluit.
Volgens hom is ’n ooreenkoms wel deur die munisipaliteit en die sementfabriek bereik, wat insluit dat Portland Readymix se vragmotors nie deur die De Zoete-inval-woonbuurt moet ry nie, maar eerder op die N1, waarna hulle sal afdraai na die agterstrate van die woonbuurt om by die sementfabriek uit te kom.
“Daar is nie ’n besluit geneem dat Portland Readymix se voertuie van die N1 na die [fabriek] moet ry nie, aangesien die munisipaliteit nie sakeondernemings kan dwing om nie ’n openbare pad te gebruik nie,” verduidelik Johaar.
“ ’n Ooreenkoms mag wel bereik word oor watter paaie of roetes sonder probleme gebruik kan word.
Daar is immers nog ’n uitdaging met verskaffers se voertuie wat goedere by die fabriek aflaai en deur die woonbuurt jaag, maan Liebenberg.
Volgens hom het klagtes die laaste paar weke wel afgeneem, met een inwoner van Fraterstraat wat ook genoem het dat daar ’n verbetering van Portland Readymix se kant af is.
“Portland Readymix is nie onwettig daar nie,” sê Liebenberg, maar verduidelik ook dat alle partye moet saamwerk om die probleem op te los.
’n Besluit is geneem dat Portland Readymix weer ’n “stofbeheerbestuursplan” in werking moet stel nadat hy met twee stoftoetse gefaal het om te wys hoe die fabriek “stofgenerering” verder sal beperk.
Die stoftoetse bewys hoeveel stof vrygestel word en of dit teenstrydig is met die munisipaliteit se stofbeheerregulasies binne ’n sekere stofmoniteringsperiode.
“Verdere monitering van stof moet ’n duidelike afname oor tyd toon. Dit beteken dat strenger versagtende maatreëls geïmplementeer moet word om stofvlakke binne die wettige standaarde te bring,” sê Johaar.
“Een van die aksie-items uit die vergadering was dat Portland Readymix terugvoering moet gee oor die onderhoud van die serwituut-pad, aangesien die munisipaliteit nie tevrede is met die huidige stofgenerering op hierdie pad nie.
“Versagtende maatreëls is in November 2022 op die serwituut-pad geïmplementeer, maar dit blyk addisionele onderhoud is nodig om die stofgenerering op die pad verder te verminder.”
Johaar verduidelik die doel van 16 November se terugvoer-vergadering “is nie om besluite af te dwing nie”, maar eerder om ’n gesprek tussen die verskeie partye aan te moedig sodat op ’n plan van aksie besluit kan word.
Die vraag bly egter staan hoekom die terugvoer-vergaderings ná soveel jare steeds plaasvind, en hoekom die balspelery ná meer as ’n dekade steeds toegelaat word.
Dit blyk immers die beste opsie is om ’n swart-op-wit-besluit te maak wat alle partye dwing om aan sekere regulasies binne die munisipaliteit se verordeninge te voldoen.





