Peter de Villiers, die voormalige Springbok-rugby afrigter en Paarliet, het teruggekeer na die Groen-en- Goud.
De Villiers, ’n oudleerder van die Noorder Paarl Hoërskool, is aangestel as die afrigter van die nasionale dowes-sewespan.
Volgens Reenen Stenekamp, president van die SA Rugbyvereniging, is De Villiers aangestel met onmiddellike ingang tot en met die Wêreldbeker-toernooi vir dowe-sewesspelers volgende jaar in Cordoba, Argentinië.
“Ek is so bly om aan te kondig dat ek gevra is om aan die hoof te staan van die Suid-Afrikaanse Dowe Rugby-program, aangesien hul mans- en vrouespanne volgende jaar na die rugbywêreldbeker in Argentinië gaan,” het De Villiers op sy Facebook-blad aangekondig.
“Dit is ’n ware eer en ek bedank Lauren Terras en Reenen Stenekamp wat my met hierdie pos vertrou het. Dit gaan ongelooflike pret wees, uitdagend, maar so lonend!”
De Villiers was die Springbokke se afrigter tussen 2008 en 2011 en spog met ’n reekssege teen die Britse- en Ierse Leeus.
Hy het aan ’n Sondag-koerant gesê dat hy in sy tyd as die Bokke se afrigter geglo het dat rugby die krag het om gemeenskappe op te hef, en “nog belangriker, om individue te ontwikkel wat dalk nie dieselfde toegang tot sport as ander het nie.”





