Die afgelope Angus-veiling op Moorreesburg was ’n reusesukses.Foto: Wallace du Plessis


Die groot tweejaarlikse Angus-veiling by “Tollie se Bos” op die plaas De Panne naby Moorreesburg het Saterdag 23 Julie gewys nuwe lewe en hoop bestaan ná Covid-19. Rekordpryse, groot getalle kopers, ’n baie positiewe gees en ’n uiters suksesvolle veiling is gehou en altesaam 292 diere is verkoop.

Dit was uiters vindingryk om twee meatmaster-telers te nooi om ook deel te neem. Altesaam 68 belangstellendes het geregistreer, wat bewys het dit was wel ’n baie goeie idee.

De Panne se Angus-stoet van Jannie en Annie Kotze het 10 swart bulle, vier geregistreerde verse (dragtig of met kalf), vier geregistreerde koeie (dragtig of met kalf) en 40 swart kommersiële verse in alle produksiestadiums aangebied.

Hoffie en Rentia van Blerk se Spansaam-Angus-stoet het vyf rooi bulle, vyf geregistreerde koeie (dragtig of met kalf) en 10 rooi kommersiële verse (20 maande) gelys.

Anysberg-meatmasters van Agenor Lureman en Pierre Rousseau het 40 meatmaster-ooie aangebied, terwyl Henk Kearney en Andries Lesch se stoet, Consentvley, 10 ramme beskikbaar gehad het.

De Panne het 120 meatmaster-skape te koop aangebied.

Die veiling, onder leiding van Appie Maritz, is met die meatmaster-skape eerste op die lys geopen. Die gemiddelde verkoopprys wat vir Anysberg behaal is, het R4 600 opgelewer, terwyl Consentvley se topram R23 000 gehaal het. Die gemiddelde prys van die ramme was R11 450 en ooie het gemiddeld R4 622 gehaal.

Die Angus-deel van die veiling het rekordpryse opgelewer. Lot nr. 9, ’n swart Angus van De Panne-stoet, het die SA rekordprys – R300 000 – behaal, terwyl die gemiddelde prys R85 000 was. Die rooi Angus-bulle se gemiddelde prys was R80 000, met die toppresteerder wat R100 000 gehaal het vir ’n omset van R561 000. Die verkope van vroulike diere het op R365 000 te staan gekom.

Die algehele aanbod op die veiling is verkoop. Verkopers sowel as kopers was almal tevrede met die verloop van die veiling.

Die meatmaster-verkopers was baie tevrede met die eerste gesamentlike veiling en sal graag weer wil deelneem.

Hulle het gesê dit was gemaklik en lekker om ’n veiling redelik naby aan hul plase te kon bywoon.

Die hele aangeleentheid was nogal ’n massiewe onderneming met onder andere ’n groot span van BKB, tydelike hokke en kampe met voer en water, ’n mobiele barista, vervoerreëlings, spyseniering, ’n groot tent vir die veiling self en baie meer.

Alles is puik gereël en het ten spyte van ’n reënbuitjie vlot verloop.

Ná afloop van die veiling en terwyl almal die gasvryheid van Jannie en Annie Kotze geniet het, is groot planne reeds vir die 2024-veiling bespreek.

Dinge lyk dus regtig belowend.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article