Die Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassers het Woensdag (25 Oktober) op ’n aantal vuurwerke by ’n plaaslike handelaar in Wellington beslag gelê. Foto: Drakenstein-munisipaliteit

Credit: SYSTEM

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in die Paarl het ’n beroep op inwoners gedoen om tydens Sondag (5 November) se Guy Fawkes-vieringe die veiligheid en welstand van troeteldiere in ag te neem deur nie vuurwerke, oftewel klappers, in woongebiede af te vuur nie – iets wat volgens die DBV in elk geval in die Drakenstein-munisipaliteit onwettig is.

Die DBV se oproep kom nadat munisipale wetstoepassers Woensdag (25 Oktober) op ’n aantal vuurwerke by ’n plaaslike handelaar in Wellington beslag gelê het.

Die munisipaliteit sê in ’n verklaring die winkeleienaar het glo nie ’n geldige permit vir die verkoop van vuurwerke gehad nie.

Die munisipaliteit het nie gesê of die eienaar ’n boete ontvang en/of in hegtenis geneem is nie.

“Ons doen weer eens ’n beroep op inwoners om nie vuurwerke in munisipale gebiede af te vuur nie omdat dit onwettig is. Die onwettige afvuur van vuurwerke kan by ons wetstoepasser aangemeld word deur 080 131 3553 tol-vry te skakel,” lui die munisipaliteit se verklaring.

Neil Visser, ’n inspekteur by die Paarl-DBV, het Dinsdag aan Paarl Post gesê hoewel ’n afname in die gebruik van vuurwerke tydens Guy Fawkes oor die afgelope paar jaar waargeneem is, moet diegene wat hulself wel aan die afvuur daarvan skuldig maak, die veiligheid van diere asook mense in ag neem.

“Vir ’n dier is ’n vuurwerk tien keer harder op die oor as vir mense. Dit veroorsaak angs en maak diere vreesbevange – s erg dat baie van hulle selfs weghardloop en verlore raak net om van die harde geluide te probeer ontvlug. Boonop moet ook kwesbare mense en diegene met mediese toestande in ag geneem word. Ons ontmoedig mense om in vuurwerke handel te dryf en dit af te vuur.”

Visser sê eienaars van troeteldiere kan wel die nodige voorsorg tref.

“Sekere kalmeermiddels is by die meeste diereklinieke beskikbaar. Mense kan ook hul troeteldiere in die huis hou, deure en vensters toemaak en rustige musiek aansit. Dit sal help om hulle rustig te maak en hulle veilig te laat voel.”

Visser het ’n beroep op die polisie en wetstoepassers gedoen om voortaan die verkoop en afvuur van vuurwerke te polisieer.

“Vuurwerke mag eerstens nie verkoop word sonder ’n geldige permit nie. Tweedens moet spesiale skriftelike toestemming van die munisipaliteit bekom word om vuurwerke op ’n spesifieke tyd in ’n spesifieke omgewing af te vuur. Die nodige wetgewing is dus daar; ons moet net seker maak dit word toegepas.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article