Ná meer as twee dekades van ander leer om met passie tot eer van God te dans, is die nuus die afgelope naweek gedeel dat die Rejoice-dansskool sy deure gaan sluit.

Jo-Anne Huizies, wat oor die jare aan die stuur van die dansskool was, sê die sluiting volg nadat sy besluit het op sabbatsverlof “om weer perspektief te kry oor die dansskool se toekoms”. Sy voeg by dat al twee assistent-dansonderwysers ook aanstaande jaar voltyds verder gaan studeer.

“Die hoofstuk is afgesluit. Dit was vreeslik lekker. Ek moedig ouers aan om hul dogters in te skryf vir Christelike danslesse – buiten dat dit hul selfbeeld verbeter, groei hulle in die Here.”

Huizies het verlede jaar met die dansskool se 25ste verjaarsdag gedeel dat die dansskool aanvanklik begin het as ’n dansgroep van die Koinonia-gemeenskapsentrum – dieselfde jeugorganisasie waaruit die plaaslike radiostasie, Radio KC, ontstaan het.

“Destyds was dit nog ’n dansgroep, waar ons by geleenthede van Koinonia, stranduitreike en by kerke gedans het om die woord van God te versprei.

Een van die mense wat destyds ’n rol gespeel het, was Ethne Truter, die leier van die dansgroep.

“Ek het in 1998 oorgeneem en begin om ’n drie maande lange danskursus vir kerkdansspanne in die gemeenskap saam te stel om hulle in die bediening deur dans toe te rus.

“Ek het toe die naam na Rejoice verander. Ons het deur hierdie kursusse aan eksamens deelgeneem waar toesig deur eksterne eksaminators gehou is en ’n diploma by voltooiing ontvang. Baie dansskole wat vandag bestaan, het kursusse by Rejoice gedoen. Dit het ’n baanbreker op die gebied van dansbediening in die Drakenstein-omgewing geword.”

Die afgelope Sondag (1 Desember) het Huizies die nuus van die sluiting van die dansskool aan die leerders en hul familie bekendgemaak.

Volgens Huizies is die nuus hartseer deur ouers ontvang omdat hulle voel die dansskool maak hul kinders “sterk en reg” vir die grootmenswêreld.

’n Voorlegging is gedoen en die dansers is vir hul toewyding aan Christelike dans geprys.

Lily Kulsen is as die beste junior danser van die jaar aangewys en Caroche Simons as die beste senior danser.

Die dansers het trofeë en sertifikate vir hul harde werk deur die jaar ontvang.

“Die trofeë word gegee aan die dansers wat uitstaande karaktereienskappe toon, soos hardwerkendheid, integriteit, leerbaarheid en toewyding.”

Huizies en haar gesin het einde Augustus vanjaar na Johannesburg verhuis en pas goed daar aan.

“My passie en calling sal altyd jongmense en Christelike dans wees. Ek wil graag dans in skole gaan onderrig. Ek is ook gekies as gebiedsleier van die Wesrand in Johannesburg se Christian Dance Fellowship of South Africa. Ek sê nie totsiens nie; net ‘sien jou later’.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article