Wanneer jy ‘n droom het en met jou passie en wilskrag onder dit vuur maak om uit te styg, sal jy suksesvol wees.
Die plaaslike haarstilis Danielle “Danni” Johannessen se verhaal is ‘n bewys hiervan. Met haar vasberadenheid lê ‘n lang rooi tapyt vol suksesse vir haar voor. Dié 22-jarige spesialiseer in die invleg van ‘n mense se natuurlike hare met sintetiese hare, beter bekend as braidings. Sy het vier jaar gelede die deure van haar onderneming, Knotless Braiding, geopen.
“Ek het aanvanklik braidings as ‘n hobby op skool vir ‘n sakgeldjie ingevleg. Ek het nooit gedink dat dit my realiteit
gaan wees nie. Ek het beplan om ná skool te gaan studeer. Dinge het toe nie vir my uitgewerk soos wat ek gedink het dit sou nie. Ek het toe die besigheid voltyds aangepak. Ek het letterlik vir myself daarbuite gesit en bemark. Ek het vir my ‘n Instagram-blad gestig, want ek het toe reeds ‘n blad op Facebook gehad, wat ek op skool begin het om my werk te bemark.
“Dit was nie lank nie toe het ‘n salon by Val de Vie my raakgesien en ek het vir amper ‘n jaar daar gewerk. Ek het toe besluit ek gaan nie ander mense ryk werk nie, maar liewer vir myself. Ek was toe vir ‘n jaar en drie maande by Labit se sakeskool, wat entrepreneurs help. Dit is waar ek al die basics geleer het.
“Ek het vir twee jaar house calls gedoen en van die huis af gewerk. Teen die einde van 2023 het ek en ‘n vriendin saam’n plekkie by Yoga House in Hoof-straat in die Paarl gehuur, van waar ek my dienste aangebied het en sy haar dienste waar sy met naels werk. Ek het einde Oktober verlede jaar die plekkie op my eie oorgeneem.”
Sy vertel wat haar liefde vir die werk verder aanpor, is die reaksies wat sy kry wanneer sy met iemand se hare klaar is.
“Die klein meisietjies, as hulle vir my sê hulle lyk soos Elsa, raak my hart warm. Sommige tye – om te weet dat ek in die oggend opstaan en ‘n glimlag op iemand anders se gesig gaan sit – is vir my priceless, want ek kan ander deur my werk gelukkig maak.”
Buiten die dienste wat sy by haar onderneming bied, doen Danni ook braidings by partytjies, feeste en markte. Tydens interskole is meisies ook geneig om die kleure van hul skooldrag in hul hare te vleg om tot die lekker gees en atmosfeer by te dra.
Danni het al onder andere die hare van die model en TV-aanbieder Minki van der Westhuizen vir dié se verjaarsdag ingevleg. Onlangs het sy as haarstilis op die stel van ‘n musiekvideo van die Suid-Afrikaanse rymkletser en liedjie-skrywer Cassper Nyovest gewerk. Sy het die hare van die dansers in die musiekvideo stileer.
“Ek het eers twee dae voor die tyd uitgevind dit is vir hom toe ek al my details moet aanstuur . . . Toe ek daar kom, was ek shocked om hom in lewende lywe te sien. Hy is baie humble. Dit was ‘n
amazing experience om op die stel te werk, want terwyl ons besig was, het hulle die music video geskiet . . . Toe ek daar staan in daai massive huis en rondkyk, het ek by myself gedink, ‘wow Danielle, jy het dit regtig gemaak om saam met een van Suid-Afrika se beste musiekkunstenaars te werk’.”
Danni weet waar sy vandaan kom en is doelgerig op pad na waar sy wil wees.
“Ek kom van Spesbonastraat in New York. Omstandighede het vir my van ‘n jong ouderdom af geleer om onafhanklik te wees en om op my eie voete te kan staan. Ek is ‘n baie passievolle mens en doelgerig. As ek weet dat dit is wat ek wil hê in die lewe, dan gaan ek gaan daarvoor en niemand gaan my keer nie. As ek ‘n ding so wil hê, dan gaan dit so wees – ek is baie presies.”
Ten spyte van haar sukses, en soms haar besige skedule, ploeg sy ook met haar passie terug in die gemeenskap.
“Ek gee baie om vir my medemense en ek het ook ‘n hart vir mense wat op straat woon, wat minderbevoorreg is. Dis hoekom ek na minderbevoorregte skole gaan om die kinders se hare te braid en na die shelters toe ook gaan.”
Danni sê sy het ‘n paar doelwitte; een is om nog ‘n Knotless-tak te open. Tans is sy in staat om een persoon permanent aan te stel, en vier persone deeltyds om hand by te sit vir wanneer Knotless Braiding by ‘n geleentheid, partytjie, fees of mark hul dienste lewer.
Sy wil ook ander jongmense bemagtig om nie te sit en wag vir hul drome om waar te word nie, maar om dit na te jaag.
“Jongmense moet nooit opgee op jul drome nie, want dan gaan jy nooit by die goal uitkom nie. Glo in julself.”






