In tye waarin diens soms op ’n laagtepunt is, wil ek net van my ervaring vertel van uitstekende diens in ons dorp.

Ek het ’n Suzuki S-presso by die Suzuki-handelaar en eienaar, mnr. Steenkamp in Van Riebeeckrylaan gekoop, en ek moet vandag sê, met al die slegte dinge in die land is hul diens puik.

Onlangs is my karretjie van agter gestamp deur ’n minibus-taxi waarvan die bestuurder nie sy oë op die pad gehou het nie.

As bestuurskool-instrukteur het ek permanent studente wat hul ry­toetse in my motor by die verkeers­afdeling moet aflê. Dus kan ek eenvoudig nie sonder ’n motor wees nie.

Ek het met my hande in my hare gesit, maar toe kom mnr. Steenkamp tot my redding. Ek vra hom of ek hul demonstrasie-voertuig mag gebruik vir die studente se toetse.

Sonder enige geraas het hy vriendelik hiertoe ingestem.

Ek het die motor gaan haal en ’n klompie van my studente is hierin getoets en het geslaag.

Ek moes weer vra vir die gebruik van die motor en Suzuki het elke keer vriendelik gehelp.

Boonop is Suzuki se diens in die geheel puik, van die eienaar tot die werkswinkelpersoneel, die verkoopspersoneel en alle ander personeel. Wanneer jy by die deur instap, is hulle almal baie professioneel, vriendelik en behulpsaam.

Suzuki se diens is tops en ek is amper seker geen ander handelaar sou hul demo-voertuig aan my geleen het nie sodat leerders kan uitpasseer met hul demo-voertuig.

Terloops, ek bevel Suzuki-motors aan – my S-presso gebruik baie min brandstof en bied 21 km per liter.

Dankie aan mnr. Steenkamp en Suzuki-personeel.


Christa Mostert,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article