Onwettige strooi van rommel is ’n toenemende tendens wat al jare in Dal Josafat heers.

Credit: SYSTEM

Inwoners van Dal Josafat in Paarl-Oos sit met hul hande in hul hare oor onwettige rommelstrooiery, swak dienslewering en die verlate Transnet-perseel wat veroorsaak dat ongewenste mense die privaatheid van inwoners skend.

Een so ’n inwoner vertel aan Paarl Post dat klagtes oor die probleme gereeld onder die aandag van Drakenstein-munisipaliteit gebring word, maar dat geen opsigtelike verbeterings getoon word nie.

“Onwettige rommelstrooi deur ondernemings in Dal Josafat word op oop velde en sypaadjies van inwoners gepleeg.”

Hy noem dat gewone rommel Donderdagoggende vroeg deur die vullistrokke opgetel word, maar dat ondernemings wat onwettig rommel strooi juis wag tot ná die vullistrokke deurbeweeg het om ongesiens hul rommel in die omgewing te stort.

“Dit veroorsaak baie vuil omstandighede en die inwoners is raadop.

“Ons is keelvol vir die munisipaliteit en het die saak al verskeie kere geopper en niks is gedoen nie.

“Ons as inwoners van die gebied voel afgeskeep ten spyte daarvan dat ons elke maand die munisipaliteit vir diens, wat hulle nie lewer nie, betaal.

“Dit gaan nie slegs oor netheid nie, maar ons veiligheid word ook bedreig. In die dorp is alles mooi skoon . . . maar hierdie gebied lyk só!”

Volgens die inwoner onthou hy dat ’n raadslid wat dié wyk nog voor die covid-pandemie gedien het, goeie pogings aangewend het om die probleme aan te pak.

Maar die covid-pandemie het uiteraard tot groot vertragings gelei.

“Ons is ook oor ons veiligheid besorg, vernaam in Reiger -en Drommedarisstrate, weens die Transnet-grensdrade wat afgesteel is en so ongewenste karakters na die buurt lok. In dieselfde strate en omliggend is daar verskeie straatligte al ’n geruime tyd buite werking.”

Dit lei tot uiters swak sigbaarheid in die strate saans, en dat hy en sy bure van hul vrymoedigheid om daar te beweeg ontneem word.

“Daar is al tuinmeubels uit erwe gesteel en my buurvrou is al met ’n mes gedreig toe sy ’n hawelose man aanspreek wat teen haar mure ontlas.

“Boonop is die sypaadjies en strate vol slaggate.”

Drakenstein se direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, het in reaksie bevestig dat die munisipaliteit reeds dié toestande by die Wes-Kaapse regering aangemeld het.

“Die gebied ter sprake, spesifiek die Transnet-perseel, is vervalle, wat ongewenste mense na die gebied lok, wat dan vandalisme, rommelstrooiing en ander kriminele aktiwiteite tot gevolg het.”

Esau erken dat hulle gereeld klagtes oor hierdie gebied ontvang, “en telkemale al hierdie klagtes aan die perseel-eienaar, Transnet, deurgegee (het), sonder enige terugvoering”.

Hy motiveer dat die munisipaliteit se vaste-afvalbestuursafdeling kwartaalliks die gebied skoonmaak en dat hulle ter aanvulling ook verskeie wyksprojekte gebruik om die gebied skoon te maak.

“Die munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling patrolleer rooi sones (hoërisiko-gebiede) sodra ons van enige onwettige aktiwiteite verwittig word, en die munisipaliteit vra inwoners om dit asseblief so vinnig as moontlik by ons aan te meld.

“Die munisipaliteit sal ook wetstoepassers gereeld uitstuur om inspeksies te gaan doen en boetes uit te reik,” verseker Esau.

“Hoewel die omvang van die betrokke gebied groot is, doen ons wetstoepassingsafdeling alles in ons vermoë om orde te handhaaf.”

Klagtes oor slaggate, rommelstrooiing, stukkende straatligte ensomeer word via die munisipaliteit se nie-dringende dienslewering-klagtestelsel, SeeClickFix, ontvang en dienooreenkomstig gehanteer.

Inwoners het ook die opsie om onwettighede by die polisie aan te meld, of te alle tye Drakenstein se wetstoepassingskantoor tolvry by 021 807 8508 of 080 131 3553 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article