Meer as 20 000 hektaar se plantasie is vandeesweek binne sewe dae in die omgewing van Kluitjieskraal verwoes te midde van ’n brand wat aanvanklik in Wolseley ontstaan en toe in die rigting van die Bainskloofpas en Slanghoekvallei versprei het. In dieselfde tydperk is meer as 2 000 hektaar ook in ’n afsonderlike brand in Worcester in die Breedevallei verwoes.
Boere en brandbestryders het vandeesweek kragte en hulpbronne saamgespan om eiendomme en gewasse teen die verwoestende vlamme te beskerm.
Die Kluitjieskraal-brand het vermoedelik op 22 Januarie in die Wolseley-omgewing uitgebreek.
Verskeie roetes, soos die Bainskloofpas, paaie naby die Elandsberg asook die Slanghoekpad naby Wolseley, moes by tye gesluit word weens digte rook en gevaarlike vlamme.
Paarl Post verstaan dat minstens 14 gesinne naby die Voëlvleidam tussen Gouda en Hermon dakloos gelaat is toe die brand Dinsdagaand (22 Januarie) hier verwoesting gesaai het.
In ’n afsonderlike brand by die Fairy Glen-wildreservaat in Worcester is ’n aantal strukture ook in puin gelê.
Dié brand het glo Vrydag (26 Januarie) naby Brandwacht ontstaan en vinnig na die reservaat versprei, het Marianne Nielsen, ’n trustee by die reservaat, gesê.
“Teen spyte van alle pogings om die vlamme onder beheer te kry, het dit baie vinnig na die chalets versprei. Feitlik al die strukture is in ’n kort tydjie verwoes, asook twee van die drie permanente wonings op die reservaat.
“Die vlamme het na die kloof versprei, waar die kliphuis naby die Fairy Glen-dam ook afgebrand het. Geweldige skade is aan die veld en fynbos aangerig en dit het ’n groot invloed op die voeding van diere.”
Die bietjie reën wat vroeg vandeesweek op dele van die Kaapse Wynlande uitgesak het, het ’n mate van verligting vir brandbestryders gebring, maar dit was nie genoeg om brande by Bainskloofpas, Slanghoek en Elandsberg in bedwang te bring nie.
Brandbestrydingspogings is ook dikwels belemmer deur ’n skielike verandering in windrigting, asook hoogliggende gebiede wat nie deur brandbestryders bereik kan word nie.
Volgens Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder by die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit, is die brande in die omgewing van Elandsberg, Bainskloof, Slanghoek en Fairy Glen eers teen vroeg Woensdagoggend (31 Januarie) onder bedwang gebring.
Sy sê slegs kleiner opvlammings is gedurende die nag aangemeld, maar voeg by die gevaar is nie verby nie.
“Brandbestrydingspanne sal oor die volgende paar dae hierdie gebiede monitor en opruim. Dit is dag nege van uitgebreide en aktiewe brandbestryding. Ons spane word dus tot hul uiterste gerek.
“Die voorspelling is dat temperature oor die volgende paar dae in die hoë 30’s sal wees, wat gewis brandbestrydingsaktiwiteite sal beïnvloed,” sê Otto.
Brandbestryders het ook teen Woensdagoggend hul hande vol gehad met ’n nuwe brand wat Maandag (29 Januarie) naby die Brandvlei-gevangenis ontstaan en oor die kruin van die berg tot in die Dwarsberge naby Rawsonville versprei het.
Volgens Otto sal alle beskikbare hulpbronne hier ingespan word om te verhoed dat die brand na nabye plase versprei.
. More than 20 000 hectares of land and vegetation has been destroyed in the fires which have ravaged the Boland over the past week.





