Volgens die President is daar geen planne om die Taalmonument se naam te verander nie.


President Cyril Ramaphosa het verlede Vrydag in die parlement gesê daar is geen voorneme om die Afrikaanse Taalmonument en -museum se naam te verander nie.

Dit was in reaksie op die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, se vraag of die Afrikaanse Taalmonument en -museum se naam verander gaan word.

Nathi Mthethwa, die nasionale minister van sport, kuns en kultuur, het in Maart ’n uitlating gemaak dat die Afrikaanse Taalmonument en -museum se naam verander moet word.

Verskeie instansies wat met Afrikaans gemoeid is, asook verskeie politieke partye, het in opstand gekom teen die moontlikheid van ’n naamsverandering.

’n Betoging sowel as ’n openbaredeelnameproses is verlede maand in die Paarl gehou.

Die DA het laat weet hy verwelkom die president se versekering dat die Afrikaanse Taalmonument en -museum nie gedwing sal word om sy naam te verander nie.

“Sou die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, ooit weer terugloop op sy besluit rakende die naam van die Afrikaanse Taalmonument, sal die DA dit weer teenstaan. Ons sal nie toelaat dat enige inheemse tale, insluitend Afrikaans, vertrap word nie,” het die LP Veronica van Dyk, die DA se adjunk­woordvoerder oor sport, kuns en kultuur, in ’n verklaring gesê.

“Ons versoek ook steeds dat minister Mthethwa onomwonde op ’n openbare platform sy besluit – om nié (meer) die ATM se naam te verander nie, bekend maak.

“Ons verwag ook ’n verskoning aan die ATM-raad omdat die minister se manteldraaiery poog om die raad na leuenaars te laat lyk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article