Sedert die koronavirus die wêreld getref het, was die impak van die pandemie op die onderwyssektor enorm en is Suid-Afrikaanse onderwys ook op groot skaal hierdeur geraak.
Die pandemie het ook talle nuwe geleenthede vir die onderwys gebied. Dit was juis die motivering vir die Wellingtonner, prof. Michael le Cordeur, die bekende akademikus en vise-dekaan van onderrig en leer in die fakulteit opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch, om ’n boek hieroor te skryf.
Sy boek, getiteld COVID: krisis en geleenthede vir die onderwys, is ook in Engels beskikbaar (COVID: Crisis and Opportunities in Education).
Volgens Le Cordeur se voorwoord is hy van mening dat die onderwys sy grootste krisis beleef het sedert die land se transformasie na demokrasie.
In hierdie boek stel Le Cordeur onder meer die volgende vrae: “Is die onderrig wat aangebied word van so ’n gehalte dat dit ons kinders vir ’n lewe ná skool voorberei? Word ons kinders beklee met waardes en vaardighede sodat hulle ’n wesenlike bydrae tot die land se ekonomie kan maak deur selfversorgend te wees?
“Hartseer soos dit is, is die antwoord op al hierdie vrae vir die oorgrote meerderheid van kinders in ons land ongelukkig nee.”
Soos Le Cordeur in hierdie boek uitwys, is die feit dat die onderwysstelsel in ons land nog nie in duie gestort het nie grootliks te danke aan onderwysers vir wie onderwys steeds ’n roeping is.
“Ons het altyd geweet dat ons onderwys in Suid-Afrika in die moeilikheid is, lank voor die Covid-19 pandemie. Die stelsel is oornag in ’n verdere krisis gedompel toe covid die land in Maart 2020 getref het. Probleme waarmee onderwysers en skole al dekades lank worstel, en waaraan nooit gehoor gegee is nie, is oornag op die voorgrond gestoot.”
Volgens Le Cordeur het die pandemie bevestig wat hy en ander al vir jare vermoed: “Dat daar groot ongelykhede in ons onderwysstelsel is.”
“Die regering was onder druk om onmiddellik op te tree en kon nie langer die situasie ignoreer nie. Covid-19 het onderwyslui reg oor Suid-Afrika gedwing om buite die boks te dink en innoverend op te tree. Saam met die uitdagings het geleenthede na vore getree wat die onderwyslandskap in Suid-Afrika onherroepelik sal verander,” aldus Le Cordeur.
Sy boek word onderskryf deur verskeie vooraanstaande kenners op die gebied van die opvoedkunde.
“Daar is geen plaasvervanger vir ryke ondervinding en die krag van nadenke om die publiek te laat sin maak van die krisis in en die oplossings vir die onderwys nie. In hierdie toeganklike en insigryke versameling van sy skryfwerk bring prof. Michael le Cordeur daardie kombinasie van persoonlike ondervinding en wetenskaplike besinning en pas dit toe op die onderwys in pandemietye. Die resultaat is ’n waardevolle hulpbron vir sowel onderwysers as beplanners,” skryf prof. Jonathan Jansen, uitgelese professor in opvoedkunde-beleidstudie aan die Universiteit Stellenbosch.
“In hierdie tydige, pragmatiese en visioenêre boek benut prof. Michael le Cordeur sy ondervinding as onderwyser, lektor en navorser om ’n historiese blik te verskaf oor wat die opvoedkundige nalatenskap van Covid-19 mag wees, en die geleenthede wat dit bied vir die herverbeel van onderwys in hierdie land. COVID: Krisis en Geleenthede vir die Onderwys is ’n moet-lees vir almal wat bekommerd is oor die stelsel-skok wat Covid-19 die onderwys toegedien het,” skryf prof. Carisma Nel, navorsingsprofessor, skool vir taalopvoeding, Noordwes-universiteit.
Om daardie rede is die boek gemik op onderwysdosente, onderwysers en onderwysamptenare reg oor die spektrum. Nie net verskaf dit riglyne vir die toekomstige hantering van onderwys binne die sogenaamde “nuwe normaal” nie, dit dien ook as ’n historiese dokument oor die impak van Covid-19 op onderwys in Suid-Afrika.




