Paarl se grootste jaarlikse fees is nou ook amptelik van die baan nadat Interskole 2020 weens die Covid-19-pandemie afgestel is.
Die hoogtepunt van Paarl-interskole, die eindstryd tussen die aartsvyande Hoër Jongenskool Paarl en Hoërskool Gimnasium Paarl, vind reeds sedert 1915 plaas.
En in dié tyd was daar net een jaar toe die kragmeting nie kon plaasvind nie – in 1928, weens tegniese redes. ‘n Wedstryd tussend die twee skole het wel daardie jaar plaasgevind, maar nie interskole nie.
Interskole het uiteindelik ontaard in ‘n reuseskouspel van topgehalteskolesport en ‘n ware week lange fees in die Paarl.
Interskole lok jaarliks duisende mense na die vallei, ook uit die buiteland, wat beteken dat dit ‘n reusagtige finansiële inspuiting vir die Paarl-omgewing is met gastehuise en restaurante wat uit hul nate bars en waarby talle ander ondernemings ook baat vind.Die eindstryd word as die grootste skolerugbyderby ter wêreld beskou.
Annelize Stroebel, die bestuurder van Drakenstein-toerisme, sê dit is ’n baie groot verlies vir die dorp.
“Interskole is so deel van ons gemeenskap soos om omring te wees deur die berge en wingerde. Interskole is nie net deel van Paarl se geskiedenis nie, maar het ook ’n groot impak op toerisme. Dit is die voorloper van ons toerismeseisoen en duisende besoekers sak op ons mooi omgewing toe.
“Die restaurante is vol. Reünies word by verskillende onthaallokale gehou. Ons gaan die energie en vriendelike ‘banter’ mis; die hoendervleis-oomblikke as jy in hoofstraat ry en die bome getooi in skoolkleure sien. Die klanke van die orkes wat vroegoggend oefen en die klank van jongmense se sang gaan hierdie jaar stil wees. Nou gaan daar net ‘n doodse stilte heers, en ‘n verlange na die dae wat ons as vanselfsprekend aanvaar het.”
Die skoolhoofde het in ‘n gesamentlike persverklaring van al die betrokke skole gesê dit was ’n baie moeilike besluit, maar ulle respekteer die netelige situasie waarin die land tans verkeer en hulle sal alle regulasies nakom wat deur die regering ingestel is.
“Dit laat ons dus met geen keuse as om Interskole 2020 af te stel nie.”
Al vind Interskole vanjaar nie op die sportveld plaas veld nie, bied hierdie skole ondersteuners steeds die geleentheid om wel ‘n Interskole 2020-kaartjie te bekom.
Sitplekkaartjies vir wat die groot wedstryd op 1 Augustus sou wees, word steeds aanlyn te koop aangebied en in ruil hiervoor sal interskole-aanhangers ‘n sertifikaat in volkleur ontvang om te bevestig dat hulle hierdie geskiedkundige “bygewoon” het.
Jou interskole-kaartjie bied ook toegang na die virtuele interskole-byeenkoms waar die oud-Boishaai- en Gimnasium-rugbyhelde Corné Krige en Kobus Wiese op 1 Augustus ‘n spesiale terugblik van die afgelope 10 jaar se interskole gaan uitsaai.
Jou kaartjie kan jou baie pryse laat wen.
Al vind interskole nie vanjaar in sy eeu oue tradisionele vorm plaas nie, sal Interskole 2020 wel in die annale van die geskiedenis aangeteken word as ’n eerste, en hopelik ook as ‘n laaste, in dié formaat.
The on-going Covid-19 pandemic has also brought the hatchet down on Paarl Interschools, Paarl’s biggest annual festival, causing a huge financial loss to the town.





