Dit is nou byna twee jaar gelede dat die land ingeperk is weens die wêreldwye Covid-19-pandemie. En hierdie tydperk het ieder en elkeen se lewe verander.
Baie mense het weens die ekonomiese gevolge hiervan hul werk verloor. Ander het nuwe geleenthede hieruit geskep.
Baie mense moes hul lewe geheel en al herevalueer, nie net in hul persoonlike hoedanigheid nie, maar werkswyses ook. Werk-van-die huis het die nuwe wagwoord, saam met Teams en Zoom, geword.
Mense het kreatief geword en in afsondering begin bak en brou en nuwe talente ontdek. Mense het ook begin smokkel met drank en sigarette toe die regering die verkope hiervan verbied het, ook sommer self tuis begin stook met allerlei vrugte en dies meer om hul dors te les.
Paarl Post het ’n paar plaaslike bekendes gevra hoe hul lewe verloop het in die afgelope twee jaar.
Oud-Gimmie en RSG-radio-omroeper Martelize Brink het gesê sy het weer eens besef hoe veerkragtig Suid-Afrikaners as ’n nasie is en hoe fantasties ons kon aanpas.
“Maar, ek het ook geleer dat mense ook net tot op ’n sekere punt gedruk kon word. Baie mense het geweldig swaargekry tydens die inperking en dit het baie belangrik geword om na jou geestestoestand te kyk asook om mekaar te ondersteun.
“Aangesien baie mense in die erge tye van lockdown alleen moes verkeer, het dit ook meer mense laat besef hoe belangrik dit is vir mense om bymekaar te wees, mekaar in die oë te kan kyk asook die fisieke aanraking.
“Dan het ek ook eerstehands geleer dat ’n mens nie brood moet bak met gis wat by sy vervaldatum verby is nie. Ek het begin dink ek kan nie meer brood bak nie, dit was ’n krisis vir my. Toe besef ek my gis het verval. Op ’n kol tydens inperking was gis mos baie skaars.”
Die internasionaal bekende Paarlse mode-ontwerper Jacques Lagrange het gesê hoewel die afgelope twee jaar wel uitdagings gebied het, het hy seker gemaak dat hy alle uitdagings oorkom.
“Ná die afgelope twee jaar is ek besiger as ooit tevore. Dit het vir my gewys waarop om meer te fokus en minder aandag te gee aan dinge wat nie saak maak nie. Om out of the box te dink en te kyk na geleenthede wat reg onder jou neus is. Om amper weer jou sixth sense te begin vertrou en om mense te help, maak nie saak hoe klein of groot nie, want mense wat ons goed ken en soms baie na aan die huis is, het ook soms net ’n bietjie hulp nodig of ’n ‘hoe gaan dit? Tyd vir koffie?’ nodig. Spandeer minder tyd op sosiale media en meer tyd aan jouself en doen dinge wat saak maak en wat jou happy maak, want dit is die true love affair wat jou vorentoe gaan dra. Eet die koek, drink die sjampanje en reis meer!”
Danie du Toit, hoofsanger van die bekende Paarlse rock band, Spoegwolf, sê: “Wat ek geleer het, was hoe belangrik dit is dat ’n mens moet fokus op jou familie.
“Jy moet ook nie wag vir iets om in jou skoot te val nie, maar dink vooruit en werk hard daaraan om ’n robuuste besigheid te bou wat nie so maklik soos ’n mat onder jou voete weggeruk kan word nie.
“As ons almal klein besighede kan ontwikkel en ondersteun, dan sal ons ’n gesonde ekonomie kan opbou.”
Voormalige Mnr. SA, Heinrich Gabler van Wellington: “Covid-19 het ons almal se lewe verander, maar soos ek altyd sê, die lewe is 10% wat met jou gebeur en 90% hoe jy daarop reageer.
“Ek het myself gedwing om net na die positiewe te kyk. Ek het ’n inventaris van my lewe geneem en sodoende my prioriteite weer reg gekry. Ek moes besluit wat vir my werklik belangrik is in my lewe. My geloof is vir seker versterk gedurende dié pandemie omdat ek baie meer tyd met God spandeer het.
“Ek besef dat gehaltetyd saam met my geliefdes vir my van kardinale belang is en ’n waardering vir die kleiner dinge in die lewe is weer opnuut binne my wakker gemaak.
“My niewinsgewende organisasie UpcycleSA wat sporttoerusting aan minderbevoorregte gemeenskappe en skole voorsien, het ontwikkel in ’n organisasie wat nou méér as daardie behoeftes vervul. Ons skenk nou ook kos en klere aan diegene wat dit die nodigste het.
“God het die struikelblokke as boublokke gebruik. Wat ek geleer het: Wees altyd optimisties, spreek lewe, gebed dra krag en dat die Here jou altyd sal lei; selfs in donker streke sal Hy in jou behoeftes voorsien: Jesaja 58:11.”
Drakenstein se burgemeester, Conrad Poole, is van meningCovid-19 het hom ’n paar lesse geleer.
“Dit het ons as ’n gemeenskap by ’n punt uitgebring waar ons meer medemenslikheid moes toon en waar ons meer vir mekaar moes omgee. Ek het geleer dat ons as mense waarlik op mekaar aangewese is, en dit was wonderlik om te sien hoe mense mekaar bystaan wanneer die siekte toegeslaan het.
“Covid-19 het my laat besef dat tegnologie ’n wonderlike hulpmiddel is, en tegnologie soos Zoom en Teams het gehelp dat ons – selfs op die hewigste tyd van die pandemie – taamlik moeiteloos met mekaar kon kommunikeer. Daarom kon dienslewering in Drakenstein onverpoosd voortgaan en die aandag geniet wat dit verdien.
“Covid-19 het my geleer dat ’n mens met minder baie meer kan doen en dat ons alles in ons vermoë moet doen om die ekonomie in stand te hou – veral omdat so baie besighede toegemaak en werksgeleenthede verlore gegaan het.
“Dit het my verder geleer dat waar daar geleenthede verlore gaan, moet jy jou planne agtermekaar hê om te sorg dat die verliese nie te groot is nie.
“So, herstelplanne en gereedheid vir die onvoorsiene is belangrik.”





