Dit is reeds amper twee jaar vandat Chester Swart deur twee pitboel-honde in die Paarl aangeval en vir dood agtergelaat is.
Swart, ’n pastoor van die Fountain-kerk in Worcester, asook ’n omroeper by Worcester FM, was op 2 Julie 2022 om 21:30 onderweg na sy tuisdorp, maar het eers by Allie’s Supermarket op die hoek van Jan van Riebeeck- en Klein Drakenstein-weg in die Paarl gestop vir ’n peuselhappie, waar hy deur die eienaar van dié kruidenierswarewinkel, Allie Hassan, se pitboel-honde aangeval was.
Volgens Swart het hy voor die Drakenstein-apteek om die draai van die winkel gestop, en om die hoek na die kruideniersware-winkel geloop.
Die oomblik toe Swart die twee pitboel-honde gewaar het, wat “sonder leibande” by die ingang van die winkel gesit het, het hy omgedraai om terug na sy motor te stap, sonder om enigiets te doen wat die honde se aandag sou trek.
Nietemin het die honde stééds op Swart afgestorm en hom in die teenwoordigheid van Hassan en sy werknemer aangeval, waar hulle glo net toegekyk het wat gebeur sonder om hulp aan te bied.
“Die twee pitboel-honde het my eerste aan al twee my bene beetgekry – elke hond het ’n been gehad – en verskriklik begin byt.”
“Ek het ’n hele paar keer geval, opgestaan en weer geval terwyl die honde my heeltyd oor my liggaam byt.”
“Die honde het na my nek se kant begin spring, maar ek het met albei my arms gekeer en met hulle gestoei terwyl ek om hulp geskree het,” volgens Swart.
“Die honde het my op ’n tyd rondgesleep nadat ek op die sypaadjie geval en gegly het en het my ook aan my arms en rug gebyt.”
“Toe ek nader aan my kar kom om weg te kom van die honde af, het ek geskree ‘Here, help my!’ en gesien hoe ander motors en voetgangers by my gestop het, en mense geskree het iemand moet die honde van my afkry.”
Terwyl Swart om sy lewe geveg het, het drie winkelassistente van Allie’s Supermarket na Swart gestap.
Dit was tóé dat die twee pitboel-honde Swart uit hul eie op die sypaadjie gelos het.
Hy is omstreeks 22:00 deur sy vriend, wat saam met hom in die motor was en die aanval aanskou het, na die Mediclinic Paarl geneem.
Volgens Swart het hy verskeie beserings opgedoen, wat insluit erge senuwee-skade asook pyn in sy hande en bene.
“Ek kan nog nie op my linkervoet heeltemal reg trap nie, en my regterhand is ook nog besig om te herstel. Een van my vingers is nog opgeswel.”
“Dis baie moeilik fisiek en emosioneel weens die gereelde slaapstoornisse en terugflitse,” het Swart gesê.
“My linkerbeen se senuwee is ook beskadig en die agterkant [van die been se wond] is nog baie sensitief en dit brand soms soos vuur.”
“Die twee honde het ook die been se senuwee raakgebyt en die dokter het gesê dit groei een millimeter per dag terug en sal vier tot vyf jaar neem [om ten volle te herstel],” het Swart verduidelik.
Swart het die aand van die aanval op 2 Julie ’n klagte by die Paarl-Oos-polisie aangemeld, en die saak is tans in die Paarlse landdroshof met die volgende hofverskyning op 24 Mei.
Volgens kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, word ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek.
Volgens Swart speel Hassan nie oop kaarte oor waar die honde is nie, en die polisie kon blykbaar nog nie die honde opspoor nie.
Swart het gesê hy verwag geen finansiële vergoeding uit die hofsaak nie, maar wil net sien dat “geregtigheid geskied” en dat Hassan skuldig bevind word.
Volgens Jacques Peacock, ’n woordvoerder van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings, word pitboel-honde deur onverantwoordelike mense aangeskaf om ’n beeld van “mag” voor te hou en vir hondegevegte, teling of vir sekuriteitsdoeleindes.
“Hierdie honde word aangehits en opgelei om mens- en dier-aggressief te word, en die dier word baie vinnig ’n hoë risiko.
“Al te dikwels leef hierdie honde kwesbare lewens in hokke of aan kettings wat tipies lei tot ’n toename in aggressie en verder die risiko van ’n aanval verhoog.”
Peacock het verduidelik dat geen wet tans teen die teel en besit van Pitboel-honde bestaan nie.





