WAT is ’n braai sonder aartappelslaai en braaibroodjies?

Dis mos twee bykosse wat erg tradisioneel is by ’n Suid-Afrikaanse braai.

Maar tog te dikwels word aartappels te sag gekook en versuip in mayonnaise, en dit word dan as aartappelslaai opgedis.

Dit is eerder die moeite werd om ’n bietjie meer aandag te gee aan ’n aartappelslaai om hierdie nederige gereg in ’n feesmaal om te skep.

Selfs ek kan erken dat ek al die aartappels op die stoof vergeet het, en al waarvoor hulle dan goed is, is kapokaartappels. Kyk dus mooi na hulle en maak seker dat hulle net gaar is.

Vir ’n bielie van ’n aartappelslaai gebruik ek een-en-’n-half kilogram aartappels en dan maak ek die sous as volg: Meng goed saam ’n driekwart koppie mayonnaise met ’n halwe koppie gewone jogurt en ’n eetlepel mosterd. Hierby kom ’n halwe koppie fyngesnipperde ui, asook dieselfde hoeveelheid agurkies.

Wanneer die aartappels geskil en in klein blokkies gesny is en afgekoel het, meng die sous goed daardeur en laat die slaai koud word in ’n yskas. Net voordat dit voorgesit word, sprinkel ’n handvol fyngekapte pietersielie bo-oor.

Vir ’n warm aartappelslaai, berei dieselfde hoeveelheid aartappels soos hierbo voor. Snipper dan 250 g gerookte spek fyn en braai stadig in ’n pan totdat dit in bros, donkerbruin happies omgeskep is.

Sprinkel die warm spek oor die aartappelblokkies, saam met fetakaas. Giet dan so ’n kwart koppie olyfolie oor die slaai.

Plaas dieselfde pan terug op die stoof en kook ’n kwart koppie wyn- of appelasyn daarin. Laat dit vinnig kook vir een minuut, giet oor die slaai en meng als goed deurmekaar. Om die slaai af te rond, sprinkel met fyngesnyde sprietuie.

Dan kan die braaibroodjie net so ’n teleurstelling wees as dit nie die regte aandag gekry het nie.

Die wagwoord is stadig – fis hoe dit oor effens warm kole moet braai, totdat die tamatie en ui gaar is, en die kaas romerig gesmelt is, sonder dat die brood buite-om brand.

Maar hier is ook ’n smaaklike alternatief.

Neem ’n heel Ciabatta of soortgelyke ovaalvormige brood. Sny die een kant netjies oop, sonder om dwarsdeur te sny en druk die brood aan die binnekant ’n bietjie plat.

Vul tot oorlopens toe vol met ’n verskeidenheid kase, tamaties, uie, sampioene en selfs ham. Laat jou verbeelding op hol gaan. Druk dan goed toe en draai styf toe met foelie.

Ek sit die brood sommer naby aan die vuur voordat die kole nog reg is vir die braai en dit word elke nou en dan gedraai. En so kan dit vir ’n geruime tyd staan – liewer langer as te kort.

As jy hierdie gevulde brood bemeester het, gaan jy vir lank nie ’n braaibroodjie wil eet nie. En met hierdie twee geregte sal daar genoeg wees vir die Filistynse vegetariër wat so per ongeluk by die braai aangekom het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article