Waardes is baie belangrik by die Laerskool Courtrai.
Die skool volg al vir baie jare ’n waardesprogram wat op ses waardes, oftewel pilare soos hulle dit noem, gebaseer is. Dit is betroubaarheid, respek, verantwoordelikheid, regverdigheid, omgee en burgerskap. Hulle het onlangs nog ’n tema bygevoeg.
“Ons staan deur die loop van die jaar vir etlike weke by elke pilaar stil en breek dit op in onderafdelings wat vir die kinders sin maak.
“Ons probeer die waardes deel maak van hul daaglikse spreektaal, maar bowenal probeer ons hulle lei om dit werklik deel van hul manier van leef en doen te maak,” gesê die skoolhoof, Jan Brand.
Ouers word ook betrek by die program deur materiaal wat hulle weekliks ontvang. Die idee is om die gesprek rondom die ses waardes voort te sit by die huis. Kinders se gedrag, positief of negatief, word met behulp van die waardes geprys of aangespreek.
By die ses waardes-pilare het daar nou ook ’n jaartema bygekom en dit is moed (courage in Engels). “Die jaartema sluit aan by die veranderings wat die covid-pandemie veroorsaak het en hoe ons weer moet aanpas by ’n meer normale, maar tog heelwat anderse dag tot dag bestaan. Ons almal het werklik courage nodig om te kan voortgaan.”
Aan die begin van die jaar het Brand die leerders en personeel van die skool uitgedaag om die moed te hê om ’n verskil te maak in sport, kultuur, akademie en nog meer. Hy het ook nog verdere uitdagings aan hulle gestel: om ten minste een nuwe ding te probeer en om deel te neem aan dit wat die skool bied.
“Dit is deesdae baie algemeen dat besighede, skole en ander instansies met ’n pragtige lysie “waardes” teen hul mure en in hul beleide spog. Ongelukkig vind ’n mens dikwels dat dit net mooi woorde op papier is en dat die waardes nie werklik deel vorm van wat elke dag by die instansie gebeur nie.”
Vir dié skoolhoof, sy leerders en sy personeel gaan dit nie oor die mooi woordjies nie, maar oor die uitvoer van die waardes in opregtheid binne en buite die skool.. Values are very important at Courtrai Primary School. The school has been following a value programme for many years, based on six values, or pillars as they call it. They recently added another theme to these pilars, that of courage.





