Die plaaslike onderwysers wat van bedrog beskuldig word, het Maandag (24 April) weer in die hof verskyn.

Mary Banda, skoolhoof van Klein Nederburg Sekondêr, en Harvey Cupido, skoolhoof van Wellington Sekondêr, is verlede maand saam met 17 ander voormalige beheerliggaamlede en onderwysers van Atlantis Sekondêr in hegtenis geneem.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle in 2008 ’n leerdervervoerkontrak van Benjamins-busdiens met die betrokke skool onwettig verleng het. Die busdiens het glo meer as R12 miljoen voordeel getrek.

Paarl Post het die klagstaat van hul eerste hofverskyning op 10 Maart in die Atlantis-landdroshof onder oë gehad. Volgens die klagstaat was Banda in diens as die betrokke skool se waarnemende skoolhoof en Cupido as die adjunk-skoolhoof toe die beweerde bedrog plaasgevind het.

Lloyd Fortuin, ’n plaaslike regsverteenwoordiger, verteenwoordig Banda en Cupido in die saak.

Die ander beskuldigdes is Charles Marthinussen, Jeneen Cupido, Jennifer Ludick, Cyril Mack, Freddie Johannes, Lizette September, Margarite de Klerk, Denver Davis, Roy Davids, Melanie Adonis, Elvin Jacobs, Margareth Alexander, Dorothea van der Merwe, Delicia Brandt, Cameron Ludick, Christiaan Saville en Benjamin-busdiens.

Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het bevestig dat die beskuldigdes het ’n tweede keer in die Atlantis-landdroshof verskyn. Hy het gesê die saak is Maandag na die Bellville- gespesialiseerde handelsmisdaadhof oorgeplaas.

  • Hulle sal op 22 Mei die eerste keer in die Bellville-hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article