’n Gedeelte van die gemors wat ophoop by ’n vervalle huis in Monicastraat.

Credit: SYSTEM

’n Verlate huis in Monicastraat in Paarl-Oos is die tuiste van al hoe meer ongerymdhede en het ’n plek geword waar bendes bymekaar kom en dwelms gebruik, maar inwoners vrees vir hul lewe en is te bang om die kwessie direk aan te pak.

Hulle meen dit is nie net ’n veiligheidsrisiko nie, maar ook ’n gesondheidsrisiko, want mense gebruik blykbaar die vervalle gebou ook as toilet.

Een van die inwoners sê sy het oor die jare al telkemale by die Drakenstein-munisipaliteit aangeklop vir hulp, maar niks is tot dusver gedoen nie.

“Ek het nou al orals gaan probeer om die munisipaliteit, die law enforcement, die gesondheidsinspekteur en you name it te kontak. Hulle almal wys my net weg. Ek het nou al in 2014 begin vra vir hulp en tot nou het niemand nog iets gedoen nie. Die law enforcement was nou so vier maande terug hier en het vir hulle ’n brief gegee om die goed op te tel, maar daar het verder niks gebeur nie. Daar lê ’n geweldige klomp vullis. Die vullis is al besig om oor te val na een van die bure se erwe,” sê sy.

“Vandat die mense in 2009 hier ingetrek het, het hulle die huis begin afbreek en verniel. Die huis is ’n munisipale huis wat aan hulle oorhandig is. Die huis was netjies vir seker net ’n paar maande nadat hulle hier ingetrek het, en toe begin die kinders af te breek. Dit was net die kinders en hul ma wat hier gebly het, want toe hulle hier intrek, het die pa alreeds afgesterf. Die ma het so twee jaar gelede afgesterf, en nou is dit nog erger as wat dit was. By die vervalle gebou doen hulle hul eie goed. Daar is nie ’n toilet nie, daar is nie ’n wasbak nie – daar is absoluut niks. Ek weet nie hoe lewe die mense dag na dag nie. Hulle is heeldag in en uit by die erf. Dit gaan net al slegter.”

Volgens die inwoner hang daar ook gereeld vreemde karakters by die vervalle huis uit. Omdat Monicastraat in ’n bende geteisterde gebied geleë is, wil sy niks sê nie, aangesien sy te bang is vir wat daarna kan volg.

“Ek weet nie eens meer waar om te kla nie. Ek is nou al so moeg van kla, want dit verbeter nie. Hier word buttons gerook en hulle gebruik tik en hulle spoeg. Hulle maak hul mae soggens agter op die vullishoop leeg. Hulle gee nie om vir iemand nie. Dit pla hulle nie, want almal kom rook daar van die pad af.

“Ek het met my eie oë gesien hoe twee van die mense wat hier by die vervalle huis woon, vullis neem van ander mense se erwe af en dan kom gooi hulle dit agter op hulle vullishoop. Hulle maak ander mense se plekke skoon, maar hulle maak nie hulle eie plek skoon nie. Ek het nou die dag gedink as dit nou weer somer raak, dan is my huis weer vol brommers soos dit hier agter lyk by die mense.”

Paarl Post het die Drakenstein-munisipaliteit genader oor die inwoners se bekommernis en die gesondheids- en veiligheidsrisiko wat die vervalle gebou vir mense in die nabye omgewing inhou.

Seraj Johaar, Drakenstein se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het bevestig dat “die begunstigde eienaar van die eiendom” oorlede is.

“Die Drakenstein-munisipaliteit help die gesin om ’n geskikte familielid te identifiseer om die eiendom oor te neem en te restoureer vir voordelige okkupasie. Ongelukkig verleng die sosiale omstandighede met betrekking tot die gesin die proses van hertoewysing en die herstel van die eiendom,” sê Johaar.

Die inwoner sê egter dat niemand van Drakenstein-wetstoepassing weer die situasie kom ondersoek het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article