Hoewel die buitelug-gimnasium nie sonder toesig deur kinders gebruik mag word nie, het kleinspan by ’n stukkende heining toegang tot die area gekry en op die apparate gespeel, en dit ten aanskoue van sekerheidswagte wat veronderstel is om aktiwiteite daar te monitor. Foto: Lise Beyers


’n Buitelug-gimnasium in New Orleans wat opgerig is binne Orleanspark word volgens ’n inwoner glad nie benut nie omdat die publiek glo nie vrye toegang tot die toerusting het nie.

Die inwoner wou weet of jy eers toegangsgeld moet betaal by Orleanspark se hek en of dit slegs vir die gebruik van besoekers aan Orleanspark is.

Volgens Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by Drakenstein-munisipaliteit, kan die buitelug-gimnasium wel gratis deur inwoners gebruik word wat graag daar wil oefen.

“Daar moet net vooraf gereël word, by Orleanspark se hek, vir die oopsluit daarvan. Daar sal ’n toesighouer wees terwyl die fasiliteit gebruik word.”

Volgens Esau is die hek wel deur die dag gesluit om vandalisme te voorkom.

Esau het ook gesê dat kinders onder 12 jaar oud deur ouers of onderwysers vergesel word moet word en dat die fasiliteit op eie risiko gebruik word.

Met Paarl Post se besoek aan dié buitelug-gimnasium is opgelet daar is wel ’n gat in die heining om die buitelug-gimnasium, met kinders so jonk as drie jaar oud wat daarop klouter en speel sonder enige volwasse toesig – en dit ten aanskoue van die sekuriteitsbeampte by die hoofingang.

Paarl Post het die munisipaliteit hieroor in kennis gestel en Esau het verduidelik die omgewing van Orleans Park en Chicago gaan gereeld gebuk onder vandalisme, diefstal en skade aan munisipale speelparke en sosiale infrastruktuur.

“Speelparke se staal, kettings en buitebande word doelbewus verwyder om dit te verkoop as ’n kommoditeit wat finansiële waarde het. Dit ontneem die motoriese ontwikkeling en rekreasie-aktiwiteite weg van ons kinders en benadeel hul ontwikkeling. In die verlede kon kinders veilig in parke speel en klouter in bome, maar selfs dit is ook van hulle verwyder.

“Die heining om Orleanspark sal weer eens vervang en ook herstel word,” sê Esau.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article