Die familie van Adri Brown is hier te sien by Saterdag se Buddy Walkathon.

Credit: SYSTEM

Die derde Buddy Walkathon het die afgelope naweek plaasgevind.

Hierdie staptog om geld vir minderbevooregtes in te samel, is die blink gedagte van Vicki Brink. Sy het in 2020 gedurende die eerste inperking met die idee vorendag gekom.

Mense word genooi om R50 per kilometer te borg en dan daardie kilometer te stap. Die naam, verduidelik sy, kom van die feit dat jy letterlik en figuurlik ’n maatjie sal hê om saam met jou te stap.

“Die eerste inperking was ’n moeilike tyd vir so baie mense. Daar het ’n behoefte onder mense ontstaan vir voedselsekerheid gedurende daai tyd. En ook die feit dat so baie mense hul werk tydens die eerste inperking verloor het, het my gelei om die Buddy Walkathon te begin,” verduidelik Brink.

Sy het later in dieselfde jaar Perfume of God’s Love geregistreer waardeur geld wat ingesamel is aan behoeftiges geskenk word.

Vanjaar se Buddy Walkathon is gehou ter ere van een van Brink se familielede, Adri Brown, wat verlede jaar haar stryd teen kanker verloor het. Sy was ook ’n onderwyser by die Hoërskool Paulus Joubert. Die staptog is ook op hierdie skool se terrein gehou. ’n Oomblik van stilte is ter nagedagtenis van Brown gehou en Brink het ook die skare toegespreek.

“Ons kan nie verwag mense buite ons gemeenskap moet ons eie gemeenskap red nie, ons moet dit self begin doen,” het sy aan die stappers gesê.

Die geld wat Saterdag ingesamel is, sal in die eerste week van die nuwe skoolkwartaal aan Paulus Joubert oorhandig word.

Sedert hierdie organisasie se ontstaan het hulle bykans 200 kospakkies oorhandig, en geld aan ’n skool aan die Weskus geskenk. Hulle ondersteun ook deurlopend twee pasiënte van die Athlone House of Safety.

Elke winter deel hulle ook 1 000 koppies sop uit.

Hou Perfume of God’s Love se Facebook-blad en Instagram-blad dop vir inligting oor hul komende projekte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article