Die blonde beaut van Boer soek ’n vrou, wat Boer Petré op die nippertjie gegroet het voordat hy sy finale keuse op die kassie kon maak, spoel haar hart uit.
Bu-anda Laubscher (25) van Wellington sê sy het eenvoudig haar hart gevolg toe sy in die 10de episode van reeks 14 besluit het om haarself te onttrek.
“Tyd was maar min en Petré het deelgeneem om ’n pasmaat te vind. Dit was omrede ek nie iets vir hom in so ’n kort tydjie kon ontwikkel nie. Ek het net besef Lourize sou dié soektog vergemaklik – hulle pas so mooi bymekaar.”
Sy erken dat sy “goeie televisie kon speel”, maar sê “emosies, tyd en gevoelens was betrokke. Dis die werklikheid, en hoe vinniger mense dit besef, hoe vinniger sal hulle verstaan.
“My hart voel nou gerus. Ek is bly dat Petré liefde deur die proses kon vind en dat ek en hy nog op goeie terme vriende is. Ons grap nog gereeld oor die lekker tydjies op die plaas.”
Sy glo steeds hope potensiaal kan af en toe uit ’n reeks van ’n werklikheidsprogram soos Boer soek ’n vrou kom.
“Een boer kan dalk sy trouvrou vind, en dit kan genoeg wees. Mense dink dit is eenvoudig en elke boer gaan hul pasmaat vind (waarvoor ons almal maar hoop). Ongelukkig is dit maar net soos die alledaagse lewe . . . jy ontmoet iemand, jy leer hulle die eerste keer ken en jy sien potensiaal of jy doen nie.”
Die feit dat dit egter ’n TV-reeks is, maak die hele proses nóg moeiliker, meen Bu-anda. Tog het sy kans gesien vir die uitdaging en het uit die aard van die saak haar brief aan dié boer geskryf.
“Ek het gedink dis tyd om ietsie buite my gemaksone aan te durf, en toe Petré se hart so mooi op televisie speel, dink ek vir myself ‘hoekom nie?’”
Die spanning tussen die vroue was taamlik rustiger as die spanning tussen haar en die boer, verduidelik sy. “Met die vroue ontwikkel jy onmiddellik ’n nuwe vriendskap; met die boer is dit óf druk vir liefde, óf huis toe.”
Die produksiespan het Bu-anda laat voel asof hulle gehoor aan haar emosies gee en dit was vir haar ’n aangename verrassing. “Maar bowenal was die vroue werklik aangenaam teenoor mekaar en ons het dit so lekker vir mekaar gemaak.”
Nou gaan sy bloot eenvoudig voort met haar lewe as ’n binneshuise versierder en projekbestuurder vir bou- en restourasiewerk.
Sy het geen twyfel dat haar man op die regte tyd haar voete onder haar sal wegslaan nie.
“As ek my droomman kan beskryf, sal ek sê hy moet saggeaard wees, doelgerig, avontuurlustig, ’n mooi glimlag hê en natuurlik ’n boerseun wees wat my op my tone hou.
“Hy moet lief wees vir God en daardie liefde moet in sy daaglikse leefstyl weerspieël. My liefdesresep is eenvoudig – eerlikheid, respek en kommunikasie. Ons moet mekaar se beste maatjies wees.”
As ’n gebore en getoë Wellingtonner, is Bu-anda ’n baie avontuurlustige mens. “My stokperdjies sluit in enduro-motorfietsry, golf speel, skilder, houtwerk doen, perdry en jag. Die natuur en diere het ’n manier met my hart. Dit is waar ek op my gelukkigste is en alles rondom my geniet. Dan natuurlik is familie en vriende die belangrikste vir my, en om elke dag vir God te lewe.”
Sy sê die beste liefdes-les wat sy danksy die TV-reeks geleer het, is: “Liefde is blind. Liefde kan binne sekondes ontwikkel. Liefde kan deur ’n vriendskap of oor ’n tydperk ontwikkel. Almal is op hul eie tydlyn. Jy kan dit nie dwing nie. Jy sal weet wanneer dit van God af kom.”





