Nr 33: Modjadji-broodboom (Encephalartos transvenosus)

Daar is iets misties aan broodbome –nie dat jy dit met die eerste oogopslag sal opmerk nie, want op die oog af lyk hulle ’n bietjie soos ’n jong palmboom, met veervormig saamgestelde blare wat uit ’n groeiknop aan die bopunt van die stam spruit. Maar as jy in hul geskiedenis delf, blyk dit hulle het fossielspore wat minstens 280 miljoen jaar terug dateer. Deur die eeue heen moes hulle dus verskeie massa-uitwissings van plant- en dierespesies oorleef het, onder meer die gebeurtenis wat na raming 66 miljoen jaar gelede plaasgevind het toe ’n hemelliggaam van ’n paar kilometer in deursnee waarskynlik teen die aarde gebots, en ’n ontsaglike hoeveelheid stof in die atmosfeer ingeskiet het. Die teorie is dat die gevolglike ineenstorting van voedselkettings gelei het tot grootskaalse uitsterwing, insluitend die verdwyning van die dinosouriërs.

As die huidige teorieë korrek is, het broodbome dus reeds op die aarde gegroei miljoene jare voor die dinosouriërs nog eens verskyn het.

Die sikadeë (Engels: cycads) wat inheems aan Suid-Afrika is, behoort, op een uitsondering na, tot die genus Encephalartos, waarvan daar 37 spesies binne ons grense aangetref word. Hiervan het drie spesies ondergrondse stamme, drie is dwerg-spesies en die oorblywende 31 bereik boomstatus. Manlike en vroulike keëls (amper soos dié van dennebome, maar heelwat groter) word aan aparte bome gedra. Die keëls aan manlike bome produseer slegs stuifmeel, dié aan vroulike bome bevat die blootgestelde vroulike saadknoppies (vandaar die term naaksadige boom) wat ná bestuiwing tot saad ontwikkel. Die saad is betreklik groot en het dikwels ’n kleurvolle, helderrooi of -geel omhulsel. Bestuiwing geskied hoofsaaklik deur kewers en ander insekte, terwyl diere en voëls die vernaamste verspreiders van die ryp saad is.

Die spesie waarop ons vandag fokus se volksnaam is die Modjadji- broodboom. In Keith Coates Palgrave se naslaanwerk Trees of Southern Africa sê die skrywer die volgende oor dié boom: “This is perhaps the most famous of the southern African cycads and one of the largest in the world.The trees form natural forests on the mountainsides . . . near Duiwelskloof (now Modjadjiskloof, in the Letaba district, Limpopo) . . . where they have been strictly protected by succeeding generations of Rain Queens who are the hereditary rulers of the people in this area. There is little doubt that royal protection has played a part in the establishment of this unique cycad forest which was proclaimed a National Monument in 1936, for here the plants must be numbered in their thousands. They also occur in the Soutpansberg mountains.”

In die wêreld van broodbome, waar groeitempo’s oor die algemeen pynlik stadig is, word die Modjadji-broodboom as ’n betreklik vinnige groeier beskou. Dit is ook vrylik beskikbaar in die handel. Ek verstaan ’n jong boompie kos ongeveer R15 by Modjadji se kwekery. Hoewel die Paarl ’n heel ander klimaat het as die Letaba-omgewing van Limpopo, is die boom blykbaar aanpasbaar genoeg om goed te aard hier. By volwassenheid kan dit ’n hoogte van 8 meter of meer bereik.

Alle broodbome is beskermde plante in Suid-Afrika, en gevolglik het jy ’n permit nodig om hulle te besit, te kweek, te vervoer of te verkoop. Die Modjadji-broodboom word egter nie as bedreig beskou nie, so maak net seker jy koop hom van ’n wettige kwekery.

Die Suid-Afrikaanse volksnaam broodbome vir sikadeë het ’n interessante herkoms.

Die kern van hul stamme bevat ’n suiwer, hoëgehalte, voedsame stysel, en in vervloë tye is dit uitgehaal, toegedraai in diervelle en toegelaat om gedeeltelik te fermenteer, waarna dit tot meel gemaal is en gebruik is om brood van te bak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article