Die van Huyssteen-broers is albei nasionale paalspring-kampioene. Links is Nikolai van Huyssteen, hul afrigter Louis Nienaber en Migail.


As daar een ding is wat Nikolai van Huyssteen (18) en sy jonger broer Migail (16) in gemeen het, is dit hul liefde vir sport – meer spesifiek paalspring.

Dié twee broers het die eerste paar jaar van hul skoolloopbaan aan meer as een sportsoort deelgeneem. Dit was eers toe Nikolai en Migail onderskeidelik in graad 9 was dat hulle net op paalspring begin fokus het.

Migail is tans in graad 11 aan die Hoërskool Gimnasium Paarl. Nikolai het verlede jaar aan dieselfde skool gematrikuleer en is op pad om kuberveiligheid aan die Universiteit van Georgia in Amerika te gaan studeer.

“Paalspring het my baie nuwe vriende reg oor die wêreld laat ontmoet. Dit het my ook na baie nuwe lande geneem en my die geleentheid gegee om in Amerika te gaan studeer,” vertel Nikolai heel trots.

Hy sal in Augustus by die universiteit aansluit en sal daar sy paalspring verder neem waar hy tot minstens 2025 namens die Universiteit van Georgia sal meeding.

Migail op sy beurt meen dat paalspring vir hom ’n baie hegte sport is en dat hy self baie nuwe vriende daardeur gemaak het. Hy sê ook dat dit hom nie net fiks hou nie, maar hom ook uit die moeilikheid hou.

Die twee seuns het ook ’n goeie sin vir humor. Op die vraag of hulle uit ’n sportiewe familie kom, vertel Migail: “My ma, Jana, sê sy het hokkie gespeel, maar ek het nog nie foto’s daarvan gesien nie.”

Migail vertel: “My pa, Pierre, beweer hy was ook ’n paalspringer toe hy by Maties [Universiteit Stellenbosch] was, maar ons is nie so seker daarvan nie,” laat hy hoor.

Paalspring het meer as net ’n sport vir dié broers geword. Dis hul passie en hulle wy hul lewe daaraan. Die broers werk elke dag hard om hulself te verbeter en het al ’n paar hoogtepunte in hul onderskeie sportloopbane bereik.

Migail is onlangs aangewys as die o.18- Suid-Afrikaanse kampioen.

Vir Nikolai is die jeug- Olimpiese Spele in 2018 in Buenos Aires vir seker ’n hoogtepunt – veral omdat hy in die vyfde plek geëindig het. Hy is ook aangewys as vanjaar se Suid-Afrikaanse o.20- en senior kampioen.

Met die onverwagse koronavirus-pandemie wat verlede jaar alle sportsoorte tot stilstand gebring het, het Nikolai en Migail nie opgehou oefen nie.

“Ons het nie die pandemie as verskoning gebruik nie en ons eie planne beraam en voortdurend harde werk ingesit,” sê Nikolai.

Die twee broers is nie die enigste paalspringers in hul familie nie. Hul jonger sussie, Nika, ’n leerder aan die Laerskool Paarl Gimnasium, het ook ’n passie vir paalspring.

Weg van die sport hou Migail daarvan om PS4-speletjies te speel en hy hou ook daarvan om na musiek te luister.

In sy vrye tyd is Nikolai steeds versot op sport. Wanneer hy nie voor die televisie sit en die sportkanale geniet nie, speel hy gholf saam met sy vriende.

Paalspring het vir dié twee jongmanne albei ’n goeie les geleer: “Om altyd ’n plan te hê en dit dan te volg sodat jy dit kan deurvoer,” sê Nikolai.

Migail voeg by: “Geduld – dit is iets waarmee ek nog so ’n bietjie sukkel.”

Die Van Huyssteen-broers voel dit is nie net hul harde werk en hul familie se ondersteuning wat bydra tot hul sukses nie, maar ook die tyd wat hul afrigter, Louis Nienaber, aan hulle bestee sodat hulle kan verbeter. Die seuns beskryf hom as ’n lewende legende en iemand wat weet waarvan hy praat en vir niks skrik nie.. If there is one thing that Nikolai van Huyssteen (18) and his younger brother, Migail (16) have in common, it is their love for sport, but more specifically pole vaulting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article