Janien Cronjé sal deur baie onthou word vir haar vasberadenheid en sprankelende persoonlikheid.Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

Die hartseer nuus van die vasberade en sprankelende Janien Cronjé (23) se dood het talle inwoners diep geraak.

Paarl Post het verlede jaar die inspirerende verhaal vertel van ’n jong vrou by wie osteosarkoom, ’n soort beenkanker, gediagnoseer is. ’n Gedeelte van haar linkerbeen is geamputeer.

Die verhaal van Janien se pad na haar diagnose tot herstel het mense van oral geraak, veral omdat dit Janien nie gekeer het om haar passie en liefde vir spiesgooi uit te leef nie. Sy was minder as drie maande nadat ’n gedeelte van haar been geamputeer is, terug op die oefenveld om spiesgooi af te rig.

Janien het haar prostese in Desember verlede jaar gekry – iets waarna sy baie uitgesien het – en kort daarna het sy ook ’n motor gekry waarmee sy met die prostese kon bestuur. Sy het ook in haar eie woonstel ingetrek.

Haar sprankelende persoonlikheid en aanhou-en-uithou-ingesteldheid op die lewe het gewis ’n groot invloed op baie mense se lewe gehad.

Volgens Janien se suster, Liana Nortjé, het Janien aan die einde van Januarie begin siek voel, waarna dokters vasgestel het sy het breinvliesontsteking opgedoen. Haar infeksie-telling was baie hoog.

“Sy was vier dae in die hospitaal om die swelling onder beheer te probeer kry. Sy is Maandag 20 Februarie ontslaan. Sy het die laaste maand by die huis deurgebring, waar sy wou wees. Ons huisdokter en ’n wonderlike [verpleeg] suster het my ouers gehelp om haar te versorg en die nodige medikasie te gee. Janien se liggaam het egter al swakker geword en sy kon nie meer die erge infeksie veg nie,” vertel Liana.

Janien is Saterdag 18 Maart om 19:00 oorlede.

“Ons as familie gaan haar baie mis, maar ons weet sy is op die beste plek moontlik. Haar geloof en getrouheid aan God is ’n inspirasie vir ons elke dag; so ook die feit dat sy bereid was om mense soms teleur te stel, maar nooit God en Jesus nie. Ons weet sy het ’n groot impak op baie mense se lewe gemaak en nie net ons as gesin nie. Ons sal haar sin vir humor en lag baie mis.

“Sy was ’n wonderlike sussie. Ons was beste maatjies! Sy was ook ’n wonderlike dogter wat enige ouer sou trots maak, en die lieflikste mens wat altyd vir ander omgegee het.”

Volgens Liana het Janien en hul ouers ’n passie gedeel om die evangelie met ander te deel en die goeie nuus van Jesus te vertel.

“Sy was altyd bereid om te help en om veral hoop te gee aan iemand wanneer hulle nie hoop gehad het nie.”

Janien was in haar skooljare ’n kranige atleet met ’n sterk liefde vir spiesgooi en het in haar pa, die bekende spiesgooi-afrigter Nico Cronjé, se spore as spiesgooi-afrigter by skole in die Paarl en Wellington gevolg.

Boland-atletiek het sy medelye aan die Cronjé-gesin uitgespreek:

“Soos haar pa, die afrigter Nico Cronjé, was Janien Cronjé sedert 2022 ’n spiesgooi-afrigter by die Hoër Meisieskool Paarl se laerskool tot haar ontydige heengaan.

“Ons innige meegevoel aan Nico Cronjé en sy familie. Mag die Cronjé-gesin vertroosting en krag vind in die liefde van ons Hemelse Vader en in die warm omhelsing van vriende.” . Janien se familie hou Saterdag 1 April ’n ‘Life Celebration’ om 10:00 by Le Bac, om haar lewe te vier. Mense wat die geleentheid wil bywoon, word gevra om nié swart te dra nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article