Brandweerwa met bakstene bestook by verwoestende Lovers Lane-brand in Paarl-Oos

Bykans 50 mense is dakloos gelaat weens ’n by die Lovers Lane- informele nedersetting in Paarl-Oos Saterdagaand.Foto: Skermgreep


Een persoon is dood en bykans 50 mense dakloos gelaat toe ’n brand Saterdagaand by die Lovers Lane-informele nedersetting langs die Charleston Hill Sekondêre Skool in Paarl-Oos uitgebreek en tientalle strukture in die slag gebly het.

Luidens ’n verklaring deur die Drakenstein-plaaswag (DFW) was die munisipale-brandweer glo met hul aankoms met bakstene bestook en verbied om die area te betree.

Die organisasie sê een van die munisipale brandweer trokke is beskadig toe ’n baksteen die venster getref het.

Die Drakenstein-munisipaliteit het dié aanval op sy brandweer in ’n verklaring bevestig en sê hulle is omstreeks 21:28 na die toneel ontbied.

“Ons span moes weens die aanval noodgedwonge van die toneel onttrek en is toe later met behulp van die polisie na die brand begelei.”

Dit is in die stadium nie duidelik wat die motief vir die aanval was en wie betrokke was nie.

Volgens die munisipaliteit is altesaam sewe strukture in die brand vernietig. Hy sê vyf kinders is onder die 49 mense wat weens die brand dakloos gelaat is.

Een van die inwoners wat al haar besittings in die brand verloor het, het Sondag met Paarl Post se besoek aan die gebied gesê die brand het glo in een van hutte ontstaan nadat iemand vermoedelik ’n gally-blik (braai drom) na binne geskuif het.

“Dit is nie die eerste keer dat sy so onverantwoordelik is nie. Dit het al voorheen gebeur. Gelukkig kon mense in daardie stadium vinnig genoeg inspring om ’n tragedie te verhoed.”

Nog ’n inwoner het aan Paarl Post gesê die brand kon vinniger geblus word indien die brandweer nie verbied was om die area te betree nie.

“Ek kan nie verstaan dat hulle so onkundig kan wees nie. Om watter rede sal hulle dan nou die brandweer met klippe wil gooi terwyl hierdie mense in die nood is. Hierdie gebied se water is nie ordentlik aangelê nie, so selfs vir die inwoners was dit moeilik om hul besittings te probeer red,” het sy gesê.

Die brand is ook aangehits deur sterk winde wat Saterdagaand in die gebied ervaar is.

Elektriese bedrading was ook weens hoë vlamme beskadig.

Paarl Post verneem dat van die plaaslike owerhede, insluitend Eva Gouws, die raadslid van Wyk 21 wat Magnolia en Chicago-Suid insluit, Saterdagnag op die toneel was.

Die Wellington Aksie Groep (WAG) het intussen hul medelye met die gesinne wat hul besittings in die brand verloor het betuig.

“Ons dink ook aan die mense wat al hul besittings verloor het. Die sterk wind het ook ’n groot rol gespeel en die brand het vinnig versprei. Dit is die tweede groot brand binne ’n kwessie van sewe dae in Paarl-Oos. Verlede naweek het daar ook ’n paar strukture en ’n huis afgebrand in die omgewing van Disastraat,” het Stephan Landsberg, verbonde aan dié groep, het in ’n verklaring gesê.

* Hierdie is ’n ontwikkelende storie. Hou Paarl Post dop vir meer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article