Data van die Sentrale Energiefonds (SEF) vir die tweede week van September toon dat marktoestande redelik bestendig gebly het, wat die moontlikheid van ’n groot verlaging in petrol- en dieselpryse vir Oktober vergroot.
Volgens die data bly die beduidende oorverhaling in pryse, wat aan die begin van die maand begin het, hoog en oorskry dit R1 per liter vir petrol sowel as diesel.
Petrol toon ’n oorverhaling, en dus ’n moontlike daling, van tussen R1,22 en R1,30 per liter, terwyl diesel se oorverhaling tussen R1,11 en R1,13 per liter is.
Die oorverhaling-aanwysers:
. Petrol 93: 122 sent per liter;
. Petrol 95: 130 sent per liter;
. Diesel 0,05% (grootmaat): 111 sent per liter;
. Diesel 0,005% (grootmaat): 113 sent per liter; en
. Paraffien: 105 sent per liter.
Die rand was meer wisselvallig en het vroeër die week van onder R17,70 teen die dollar tot amper R18,00/dollar beweeg, maar het terugbeweeg na die R17.70-vlak en verhandel tans teen R17,75.
Olie het intussen in ’n swakker posisie gebly en verhandel as verlede week.
Dié kommoditeit verhandel tans teen $72.50 per vat nadat dit aan die begin van September van net onder $80 in Augustus tot ongeveer $73 gedaal het.
Hoewel die olieprys laer is as in Augustus, het dit die afgelope week weer effens begin styg.
Brent-ruolie het tot bo $72 per vat gestyg, wat ’n weeklikse styging van bykans 2% aandui.




