Die afgelope naweek (10 tot 12 November) het veelvuldige brande wéér in die Paarl gewoed, met verskeie strukture wat afgebrand het.
Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, die bevelvoerder van die Drakenstein-plaaswag (DFW), was hy en sy span by nege brande in verskeie gebiede betrokke.
Oor die naweek het vyf klein veldbrande in oop velde in Dal Josafat gewoed, het Van Leeuwen Boomkamp verduidelik.
Volgens Eda Barnard, Drakenstein se uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, het twee brande ook die afgelope Saterdagoggend- en aand (11 November) in Amstelhof ontstaan, terwyl dit op dieselfde aand ook in Chicago gebrand het.
Nog ’n brand het Sondagoggend (12 November) Fairyland uitgebreek.
“Die munisipaliteit se brandweerdienste het Saterdag om 05:13 ’n noodoproep oor ’n brand by die Loerie-woonstelle in Amstelhof ontvang. Vyf informele strukture is beskadig en 19 mense is dakloos gelaat.
“Dieselfde aand om 22:08 is ’n noodoproep ontvang oor ’n brand in Jan Fiskaalstraat in Amstelhof. Sewe informele strukture en een formele woning het in hierdie brand skade gely, maar geen beserings is aangemeld nie.
“Dieselfde aand het ’n brand in die Blesbok-woonstelle in Chicago uitgebreek, waarin een informele struktuur beskadig is. Die noodoproep is om 23:41 ontvang.
“Sondagoggend om 02:06 is ’n brand-voorval by Fairyland aangemeld,” volgens Barnard.
Die vure is suksesvol geblus deur die munisipale brandweerdienste asook die DFW, met geen sterftes wat aangemeld is nie.
“Die finale lys van die aantal brande is nog nie bevestig nie, en sal eers beskikbaar wees sodra die opnames voltooi is,” het Barnard gesê.
In ’n afsonderlike voorval op Maandag (13 November) het 35 informele wonings in die Nederpak-informele nedersetting in Mbekweni afgebrand.
Van Leeuwen Boomkamp het telefonies aan die Paarl Post gesê die veldbrande word opsetlik deur mense gestig, maar hulle weet nog nie hoekom dit gedoen word nie. Hy het ook gesê brande wat in die woongebiede plaasvind, is weens ’n gebrek aan kennis oor die gevare wat vure inhou.





