Talle gesinne is die afgelope week dakloos gelaat nadat verskeie brande in die vallei wonings in puin gelê het.
’n Brand het verlede Vrydag (8 April) in Ameliastraat in Groenheuwel ontstaan, waar ’n huis erg beskadig is. Twee aangrensende opslaanwonings het ook heeltemal in die voorval uitgebrand.
Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, sê die munisipale brandweerdiens was op die toneel om die vlamme te blus. ’n Volwasse man het ook behandeling weens rookinaseming ontvang. Sewe mense is weens dié voorval dakloos.
Dieselfde dag het die brandweerdiens hulle na ’n brand in Mbekweni gehaas. Volgens Esau was ’n groot opslaanwoning reeds uitgebrand met die brandweer se aankoms op die toneel.
“Die buitemure van ’n aangrensende huis is erg in dié brand beskadig, wat agt mense geraak het.”
Tragedie het inwoners van Ribbokstraat Sondagoggend omstreeks 00:00 in Chicago getref. Altesaam 43 mense is deur die verwoestende brand geraak nadat 10 opslaanwonings in ’n ashoop agtergelaat is.
Edgar Petersen, ’n woordvoerder van die gemeenskapspolisiëringsforum van Paarl-Oos, was op die toneel. Hy sê: “Die oorsaak van die brand is tans onbekend, maar mense bespiegel dit is deur vermoedelik ’n okkapyp-kool wat onbewaak gelaat is, veroorsaak.”
Die brand het vinnig versprei en in die proses groot skade aan aangrensende woonstelblokke veroorsaak.
’n Man en ’n vrou is in dié voorval beseer.
“My inligting is dat Michael Petersen in ’n koma is nadat hy ernstige brandwonde aan sy bolyf, kop en arms opgedoen het. Hy word in die Tygerberg-hospitaal behandel. Ander verliese was, sover bekend, ’n paar duiwe, ’n kat en drie honde wat in die brand dood is,” voeg Petersen by.
Nog ’n familie van Piet-My-Vrou-straat in Amstelhof se woning is nie gespaar nie. Petersen sê toe die brand net voor 20:00 Maandagaand (11 April) uitbreek, was die eienaar van die huis by die winkel.
Met sy terugkoms het hy tussen die skare mense op die toneel gesien sy huis brand. Die slagoffer het ook sy motor in die brand verloor.
“ ’n Volwasse vrou het brandbeserings aan haar hand opgedoen en is daarvoor behandel. Die brandweer het die brand gou in bedwang gebring.
“ ’n Voertuig is ook erg in die brand beskadig,” verduidelik Esau.
Hy voeg by dat die oorsaak van al die brande nog onbekend is, en dat die omstandighede deur die Paarl-Oos-polisie ondersoek word.
Esau sê die munisipaliteit het intussen noodsaaklik hulp, soos kospakkies, komberse en ’n noodbehuising-aanvangspakket, aan die gesinne verskaf.





