Altesaam 40 strukture by Voëlvleidam het in die slag gebly weens vandeesweek se brand in die gebied.Foto: Skermgreep


Sowat 40 huise by Voëlvleidam is Maandagnag in puin gelê toe nog ’n veldbrand deur die gebied gewoed het.

Die bekende Voëlvlei-visvang-klubhuis is verwoes asook honderde hektaar landbougrond, waaronder die plaas Silwerfontein en sy plaashuis.

Die brand het Maandag by Kluitjieskraal, naby Wolseley, begin, maar het weens sterk wind vinnig in die rigting van Tulbagh versprei en van daar na Voëlvlei aanbeweeg.

Hier is chaos gesaai toe die brand geheel en al buite beheer geraak het.

Weens die stormsterkte wind kon brandbestrydingshelikopters Dinsdagoggend aanvanklik nie opstyg nie, maar kon wel later in die dag vlieg.

Volgens Samuel Walters, ’n inwoner van Voëlvlei, is brandbestryders se werk verder belemmer omdat twee van die departement van waterwese se ondergrondse waterpype reeds oor die naweek onklaar geraak het en brandweerwaens dus nie hier water uit die brandkrane kon pomp nie.

Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriks­munisipaliteit (KWDM), het gister (Woensdag 24 Januarie) gesê hul branddienste het oornag goeie vordering gemaak om die brand onder beheer te probeer bring, maar in die meer ontoeganklike gebiede in die berge bo Kluitjieskraal was die brand steeds buite beheer.

“Die goeie spanwerk tussen die KWDM en Drakenstein-munisipaliteite se branddienste kon verskeie strukture wat in ’n bloekomplantasie op Silverstone-plaas gevestig is, beskerm.

“Die gebied wat tans die kommerwekkendste is, is die brandlyn wat uit ’n klein vallei, bekend as Suurvlakte tussen die berge naby die Voëlvleidam, aan die brand is. Die brand word daar deur ’n ou denne­plantasie en sterk wind aangeblaas. Hierdie stuk vallei lei na verskeie gebiede, insluitend Bainskloof aan die een kant asook private eiendom, wat die tuiste van ’n aantal wilde diere is.

“Weens die ligging en ongelyke grond kon spanne nie die gebiede gedurende die nag bereik nie,” het Otto bygevoeg. . Altogether 40 homes have been burned to the ground due to a wild-fire at Voëlvlei Dam.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article