’n Brand het verlede week op ’n oop stuk erf, wat vol onkruid was, uitgebreek.


’n Inwoner van Waterbokstraat, New Orleans, naby Allandale, het verlede week ’n noue ontkoming gehad toe ’n brand buite haar erf op ’n oop, toegegroeide stuk grond uitgebreek het.

Ulrecka Joshua sê haar oorlede pa het vir jare by die Drakenstein-munisipaliteit gekla oor die erf aangrensend aan haar ouers se erf. Dié erf word nie deur die eienaar in stand gehou nie, maar sy pleidooie het op dowe ore geval.

“Ons hou dit maar in stand aangesien die onkruid en gras te lank word en jy nie kan sien of iemand dalk daarin wegkruip nie. Talle brande het al daar uitgebreek en ek betaal deesdae mense om die erf te kom skoonmaak. Gister (Dinsdag 22 Februarie) het nog ’n brand uitgebreek, maar gelukkig het die brandweer vinnig gereageer.”

Ulrecka meld ook dat dié erf gereeld vir onwettige vullisstorting gebruik word.

Gerald Esau, uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, sê drie erwe is in die oop gebied tussen die Allandale-gevangenis en die klaer se woning. Volgens Esau is twee van hierdie erwe direk agter die wonings munisipale eiendom, maar die groter derde erf is in private besit.

“Die Drakenstein-munisipaliteit voer deurentyd inspeksies op die erwe uit. ’n Inspeksie in November verlede jaar op die groter private erf het getoon dat die erf wel skoongemaak is. Die twee munisipale erwe is deel van die munisipaliteit se instandhoudings­program wat die skoonmaak daarvan insluit,” het Esau gesê.

Esau het egter nie genoem presies wie se erf dit is wat op 22 Februarie gebrand het nie.

In Drakenstein bestaan talle sulke erwe wat nie deur die eienaar van die grond in stand gehou word nie. Een daarvan is die grond aangrensend aan Klein Nederburg Sekondêr, waar die onkruid tans weer hoog staan en waar brande ook gereeld uitbreek.

Paarl Post wou ook weet wat die munisipale verordeninge is ten opsigte van erwe wat nie deur eienaars in ’n netjiese toestand onderhou word nie, waarop Esau die volgende geantwoord het: “Wanneer onbewoonde private erwe oorgroei is, word die eienaar 30 dae kennis gegee deur ’n formele kennisgewing vir die skoonmaak daarvan. Indien die erf na afloop van die 30 dae steeds oorgroei is, word dit deur die munisipaliteit skoongemaak vir die eienaar se koste. Hierdie proses word herhaal elke keer as inspeksies op private erwe uitgevoer word en die munisipaliteit bevind dit is oorgroei.”

Inwoners van Blakestraat in die Paarl kla ook al jare lank oor ’n huis daar wat deur die jare deur die eienaar so te sê verlate gelaat is. Misdadigers breek dikwels in en al staan dit leeg, is al die bedrading en koperpype al uit die huis gesteel.

Die erf is ook byna toegegroei en ontaard dikwels in ’n rottenes.

Min word hier gedoen om die situasie te beredder.

Volgens Esau sal die munisipaliteit in die geval waar ’n klagte aangemeld is oor ’n private erf wat ’n oogseer is of waar onwettige storting plaasvind, die saak na sy wetstoepassingsafdeling verwys om die vereiste kennisgewing aan die eienaar uit te reik om die eiendom skoon te maak.

. Last week a fire broke out on an open plot of land overgrown with weeds. The owner of the property next to the plot said this a problem they are struggling with for years.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article