Die brand wat op Bainskloofpas woed is buite beheer het die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit vanoggend (29 Januarie) bevestig.
Tans is die regterflank van die berg onder beheer, maar die linkerflank brand steeds buite beheer. Die brand het deur ongeveer 261 hektaar plantegroei gebrand.
Brandbestryders van KWDM, CapeNature en Winelands FPA spook sedert gistermiddag om die brand onder beheer te bring wat aangevuur word deur sterk winde.
“Daar is tien brandbestrydingsvoertuie met 23 brandbestryders bygestaan deur twee gekontrakteerde grondspanne van NCC, wat die totaal van 43 bemanningslede te staan bring,” sê KWDM in ’n verklaring.
Drie helikopters is ontplooi, Whiskey en Tango van Henley Air en die Black Hawk van die Provinsiale Rampbestuursentrum.





