Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste en vennote CapeNature en Winelands FPA het die afgelope naweek weer met ’n bergbrand – dié keer in Bainskloofpas – geworstel.
Grond- en lug-brandspanne het vir bykans twee dae die vlamme, wat al nader aan historiese plase om Wellington gekruip het, 24 uur per dag bestry.
Luidens die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het die brand Saterdagmiddag laat begin en die vlamme is deur sterk wind versprei. Spanne werk sedert Saterdag onverpoos.
Die brand het ongeveer 260 ha plantegroei vernietig.
Nege brandbestrydingsvoertuie met 20 bemanningslede het die brand onverpoos bestry. Hulle is bygestaan ??deur vier gekontrakteerde grondspanne van NCC, twee van CapeNature en 16 grondbemanningslede van die Volunteer Wildfire Services. Altesaam 96 mense het gehelp en drie helikopters is ingespan. Die Drakenstein-plaaswag (DFW) het ook ondersteuning gebied om die geskiedkundige plaas Doolhof te beskerm.
Die DFW het vier brandvoertuie en twee vierwielaangedrewe DFW-tenkwaens op die toneel ontplooi. Hulle kon sien hoe die brand na die geboue beweeg.
Die brand is Sondagnag in bedwang gebring, maar die gebied word die volgende paar dae deurgaans gemonitor om te keer dat dit weer opvlam.
Geen verlies van lewe of vaste eiendom is aangemeld nie.





