Nog voordat die bouwerk by die Paarl Valleij-ontwikkeling begin het, was inwoners van Reitz- en Retiefstraat reeds keelvol hiervoor.
Talle inwoners het die groot ontwikkeling uit die staanspoor teengestaan omdat dit inbraak maak op die landelike ligging van die gebied, wat ook bederf gaan word deur ’n reuse-toename in verkeer, wat hulle sê die gebied onveilig sal maak.
Die goedkeurings vir die ontwikkeling is toegestaan sonder dat gehoor gegee is aan jare lange teenstand vanaf die inwoners.
En noudat die bouery hier aan die gang is, het dinge nog net verder vererger.
Inwoners moet daagliks, en soms twee keer ’n dag, hope stof uit hul huise verwyder weens ’n oënskynlike tekort aan stofbeheer deur die bouers. Swaar vragmotors jaag ook op en af en gebruik nie die voorgeskrewe diensingang nie, maar eerder die hoofingang voor huise in Reitzstraat.
Die bouery gaan onverpoosd sewe dae ’n week voort – soms tot sonsondergang.
Dan ook word inwoners douvoordag wakker geskud deur bakkies wat vragte werkers by die hoofingang van die ontwikkeling aflaai – nie net die geraas van die werkers nie, maar die bakkies wat ook onophoudelik die toeter by die hek druk.
Die Drakenstein-munisipaliteit het by navraag oor klagtes bevestig dat sy omgewingsbestuur-afdeling reeds klagtes in verband hiermee ontvang het, waarna hulle ’n inspeksie uitgevoer het.
Die Paarl Valleij-ontwikkeling het sy oorspronklike omgewingsmagtiging op 18 September 2020 van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning ontvang, en die omgewingsbestuursplan van die genoemde ontwikkeling stipuleer dat stofbeheermaatreëls tydens die bouproses toegepas moet word.
Die munisipaliteit sê ’n watertenk-vragmotor word byvoorbeeld gebruik om bewerkte grond nat te hou.
Die kontrakteur het ook onderneem om ’n addisionele watertenk-vragmotor op die perseel te kry om ’n groter oppervlak van bewerkte areas nat te hou. Die munisipaliteit het verder versoek aanvullende maatreëls, soos voertuie wat stadiger moet ry, moet toegepas word.
Verder sê die munisipaliteit omgewingskonsultante stel maandeliks omgewings-ouditverslae op om die nakoming van die omgewingsbestuursplan se vereistes te monitor. Hierdie ouditverslae word by die provinsiale departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning ingedien, soos vereis deur die omgewingsmagtiging, en stofbeheer moet ook aangemeld word.
Indien die ontwikkelaar versuim om stof as gevolg van konstruksie-aktiwiteite die hoof te bied, kan die provinsiale departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning verdere aksie neem om te verseker dat die omgewingsbestuursplan nagekom word.
“Die munisipaliteit sal voortdurend saamwerk met die kontrakteur en gereelde inspeksies uitvoer om te verseker dat die probleem aangespreek word. Direkte kontakbesonderhede van die omgewingsbeamptes is ook aan die klaer voorsien indien oormatige stof in die toekoms ervaar word.”





