Bouers, argitekte, ontwikkelaars en verskeie ander betrokkenes in die boubedryf kla dat die Drakenstein-munisipaliteit voete sleep as dit kom by die goedkeuring van bouplanne.
Verskeie rolspelers het onlangs hieroor by Paarl Post kom aanklop. Hulle meen dat dit soms tot meer as ’n jaar lank kan duur vir ’n eenvoudige bouplan om goedgekeur te word. Dit terwyl, volgens nasionale regulasies, aansoeke vir planne van 500 m² binne ’n maand goedgekeur moet word en groter planne binne twee maande. Maar plaaslik neem planne tot ’n jaar en meer om by die munisipaliteit goedgekeur te word.
Hulle meen dit stuit ontwikkeling en skrik beleggers ook uit die gebied af.
In ander dorpe soos Malmesbury en Hermanus word bouplanne soms binne ’n week goedgekeur.
Die ontevredenes sê ook die probleem het al voor Covid-19 begin, wat dus nie die blaam hiervoor kan kry nie. In Hermanus neem dit byvoorbeeld twee weke vir planne om goedgekeur te word. Met die digitale aansoekplatform behoort dit makliker te wees en al die betrokke departemente wat na die planne moet kyk, het dan gelyke toegang tot die planne.
Maar die stelsel werk klaarblyklik nie, want dit sloer steeds. Volgens bouers en argitekte raak dit al hoe erger en hulle word gedwing om sonder die nodige toestemming te bou.
Covid-19 het ook bouers erg benadeel, en hierdie vertragings maak dinge nog moeiliker, wat ook tot werksverliese lei.
Dit lei ook tot bouwerk wat onwettig plaasvind, suiwer uit desperaatheid.
Jacqui Samson, uitvoerende direkteur: beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings by die Drakenstein-munisipaliteit, het gesê ’n uitkoms rakende ’n bouplan kleiner as 500 m² behoort ingevolge die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde binne 30 dae gegee te word en ’n bouplan groter as 500 m² binne 60 dae.
Maar, sê sy, dit beteken egter nie dat ’n bouplan binne hierdie tydperk goedgekeur sal word nie, aangesien in baie gevalle eers regstellings aan bouplanne gemaak moet word om aan die toepaslike standaarde en regulasies te voldoen, waarna dit moet hersirkuleer. “In die laaste kwartaal van 2021 was Drakenstein-munisipaliteit se gemiddelde tydperk vir die voorsiening van ’n uitkoms op die 845 sirkulerings, binne 12,22 dae.”
Maar diegene in die boubedryf stem nie hiermee saam nie, tensy dit baie kleinskaalse planne is vir private huishoudelike aanbouings.
Hulle sê ook dat die hersirkulering nie so lank moet duur nie, aangesien die stelsel nou digitaal is en alle partye by die munisipaliteit wat by die goedkeuring van bouplanne betrokke is, tegelykertyd planne en aanpassings digitaal tot hul beskikking het.
- edit@paarlpost.co.za.
- The building fraternity in Drakenstein is unhappy about the very long delays in the approval of building plans at the Drakenstein Municipality.


