Maak ’n heerlik baksel outydse botterkoekies vir Kersfees.Foto:


’n Baksel tuisgemaakte koekies is in die feestyd byna ’n noodsaaklikheid in alle huishoudings, met die kinders en hul maatjies pal tuis, asook gaste wat hierdie tyd van die jaar bly inloer.

Dan maak koekies ook ’n wonderlike Kersgeskenk vir ieder en elk.

Knyp dus ’n tydjie af en bak ’n brousel van hierdie baie maklike resep, en maak heerlike outydse botterkoekies.

Outydse botterkoekies (36 koekies)

Jy benodig

1 koppie botter saggemaak

1 koppie versiersuiker

¼ teelepel sout

1 teelepel vanielje-ekstrak

¼ teelepel amandelekstrak

1 groot eier, kamertemperatuur

2¼ koppies alledaagse meel + ¼ koppie indien nodig

18 versuikerde kersies in die helfte gesny (opsioneel)

So maak jy

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer bakplate met bakpapier uit.

Klits botter, versiersuiker en sout tot baie lig en donsig, ongeveer 3-4 minute.

Meng vanielje-, amandelekstrak en eier by. Voeg dan die meel bietjies-bietjies by tot als goed gemeng is.

Rol balletjies van 2,5 cm van die deeg en plaas ongeveer 5 cm uit mekaar uit op die bakplaat en druk met die agterkant van ’n vurk effens plat.

Top met die helfte van ’n kersie.

Bak vir sowat 12 minute tot ligbruin aan die rande.

Haal uit die oond en laat heeltemal afkoel.

Wenke: Maak seker dat eiers en botter kamertemperatuur is.

Klits die botter en poeiersuiker vir minstens drie volle minute, dit gee die koekie ’n ligter tekstuur.

Bak net totdat die heel rande ’n klein bietjie goudbruin is.

In plaas van die koekie met ’n kersie versier, vervang met ’n Smartie, pekanneut, of wat ook al jy mag verkies.

Botterkoekies kan vir vyf dae of so in ’n lugdigte houer by kamertemperatuur gestoor word. Hulle sal langer hou, maar hulle sal nie so sag wees nie.

In die vrieskas sal hulle vir ’n paar maande hou. Ontdooi by kamertemperatuur voor dit geniet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article