Boschendal wen beste plaas én werker by Franschhoek-landboutoekennings

Shannon Robertson (middel) van die Boschendal-wynlandgoed is verlede Vrydag (5 September) as die Landbouwerker van die Jaar vir die Franschhoek-streek aangewys. Foto: Rasaad Adams
Shannon Robertson (middel) van die Boschendal-wynlandgoed is verlede Vrydag (5 September) as die Landbouwerker van die Jaar vir die Franschhoek-streek aangewys. Foto: Rasaad Adams

Shannon Robertson van die Boschendal-wynlandgoed is verlede Vrydag (5 September) as 2025 se Landbouwerker van die Jaar vir die Franschhoek-streek aangewys.

Boschendal is ook aangewys as die jaar se beste presterende Franschhoekse plaas en is met met vier toekennings bekroon.

Dié toekennings word jaarliks deur die Wes-Kaapse departement van landbou, in samewerking met die Shoprite-groep, aangebied.

Landbouwerkers word in 14 afdelings vereer – nie net vir hul bydrae tot die landboubedryf nie, maar ook vir hul eie unieke bydrae tot ‘n gesonde werksomgewing op hul plase.

Vir die Franschhoek-streek is vanjaar altesaam 81 inskrywings van 11 plase ontvang, het Darryl Jacobs, adjunkdirekteur-generaal by die provinsiale departement van landbou, by die spoggeleentheid gesê.

“Dit is ‘n duidelike teken dat die gees van erkenning en uitnemendheid steeds groei,” het Jacobs gesê.

Nadat Roberston as die landbouwerker van die jaar aangewys is, het sy haar prestasie in haar toespraak as ‘n “spanpoging” beskryf.

“Ek sou nie hier kon staan sonder my span en selfs die mense wat die eenvou-

digste werkies doen nie – selfs die trekkerdrywers; almal van ons.

“Dit is absoluut ‘n spanpoging en ek ervaar dit veral daar by Boschendal. Ek het jonk en onervare hier begin, maar oral waar hulle kon, het mense ‘n handjie ingesit.

“Ons wil almal sien hoe die volgende werker na bo styg. Ek hoop dus dit kan ‘n inspirasie vir die volgende werker wees, wat dalk volgende jaar hier staan,” het Robertson in haar toespraak gesê.

Johnson het verder benadruk in die Wes-Kaap werk meer as 200 000 mense in die landboubedryf, met ‘n beduidende deel van dié arbeidsmag wat in gebiede soos Franschhoek gekonsentreer is.

“Franschhoek is wêreldwyd bekend vir sy skoonheid, sy wingerde, sy vrugte en sy ryk landbou-erfenis.

“Maar, agter elke oes, agter elke bottel wyn, elke krat vrugte en elke veld in volle blom, is daar hande wat geswoeg het, harte wat volhard het en mense wat hulle alles gegee het – dikwels sonder veel erkenning.”

Hy het gesê die Wes-Kaap is verantwoordelik vir ‘n groot deel van Suid-Afrika se landbou-uitvoer – veral sitrus, wyn, druiwe, neute en vrugtesap.

Volgens hom dra hierdie uitvoerprodukte by tot Suid-Afrika se landbou-uitvoermark van $13,2 miljard (R242 miljard), met plaaswerkers as die kern van hierdie sukses.

“Ons is hier om te sê: Ons sien julle. Ons waardeer julle. Ons bedank julle. Julle werk is nie net arbeid nie – dit is ‘n nalatenskap. Dit is die stille krag wat ons gesinne voed, ons ekonomie dra en ons tradisies lewendig hou.

“Julle staan op voor sonsopkoms, julle verduur die hitte, die koue en die lang ure – nie net vir ‘n loon nie, maar vir ‘n toekoms.”

Die wenners in elke kategorie dring nou deur na die provinsiale toekennings wat op 30 September plaasvind.

Robertson kwalifiseer dus outomaties om as provinsiale landbouwerker van die jaar aangewys te word.

Die wenners in die onderskeie 14 kategorieë

Algemene werker: Gaynor Williams (Waterval-boerdery)

Drywer: Karel Siegelaar (Babylonstoren)

Besproeiingspesialis: Ricardo Daniels (L’Ormarins)

Tegniese operateur: Wilfred Fortuin (Anthonij Rupert Wyne);

Sosiale ontwikkeling: Thalia van Rooyen (La Motte);

Administratiewe personeel: Kayline Pockpas (Sawmill Fruit Terminal);

Diereproduksie: Schedrick Oersen (Drakenstein Stad);

Landbouverwerking: Beulah Strydom (L’Ormarins);

Voorvrou: Thulani Situma (L’Ormarins);

Junior bestuurder: Keenan Carstens (Boschendal);

Middel bestuurder: Shannon Robertson (Boschendal);

Beste potensiaal: Wiseman Ranisi (Sawmill Fruit Terminal);

Landbouwerker van die jaar: Shannon Robertson (Boschendal); en

Beste presterende plaas: Boschendal-wynlandgoed

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article