Die Paarl-krieketklub (KK) het verlede naweek op die Parys-velde uitstekend vertoon toe hy bonuspunt-oorwinnings teen beide Wellington KK en Worcester United KK in Krieket Boland se Premierliga-kompetisie behaal het.
Die span het Saterdag 210 in 50 boulbeurte geslaan danksy sy kaptein, Adrian du Toit (90, 4×4, 2×6), wat ’n speler-van-die-wedstryd-vertoning gelewer het. Hy het ook die Wolwe met sy boulwerk (10-4-18-5) aan die raai gehou om die wedstryd te beklink. Hy is goed bygestaan deur Akeem Minnaar (60, 5×4), sy vennoot in ’n derdepaaltjie-vennootskap van 104 lopies.
Hierna het Herschelle Poggenpoel en Du Toit ’n vierdepaaltjie-vennootskap van 63 opgedis. Roche du Plooy (10-2-23-1), Kieran Dreyden (10-1-38-3) en Tiaan Cloete (8-0-34-3) was Wellington se beste boulers.
Junaid Cassiem (29, 4×4) en Cloete (25) het vir Wellington hard met die kolf probeer, maar Du Toit het goeie bystand gekry van Waylain September (10-0-38-2) en Edrique Cook (5.2-0-22-2) om toe te sien dat die besoekers vir 129 uitgeknikker word.
Sondag is Paarl weer eens ingestuur om te kolf en sy 210 in 50 boulbeurte teen Worcester United was grootliks te danke aan Du Toit (67, 3×4, 1×6), Taigh Schoor (54 in 31 balle, 4×4, 3×6) en Lindley Hendricks (25, 4×4, 1×6).
Schoor en Du Toit se agstepaaltjie-vennootskap van 86 lopies was die hoogtepunt, met die besoekers se Keegan Lesch (8.5-2-63-3) en Alexander Booysen (10-1-29-4) wat met die bal die beste gevaar het.
Worcester United kon 148 haal danksy ’n laastepaaltjie- vennootskap van 63 deur Raymond Nonnies (46, 2×4, 2×6) en Booysen (25, 2×4, 1×6). Marshin Jeftha (28, 1×6) was die enigste ander kolwer wat teen Paarl se Waylain September (7.3-1-37-5), Taywin Adams (10-3-23-2) en Henrico Albertus (10-2-25-2) hond haaraf kon maak.. Paarl speel Saterdag weg teen die ligavoorlopers, Vredenburg-Saldanha, en Sondag weg teen Victoriane. Paarl II speel Saterdag tuis teen die Weskussers en Sondag weg teen Wellington II.





