Die derbystryd tussen Newton (Bombelas) en Newton-Villagers is Saterdag op Bombelapark ná byna 30 jaar hervat.
’n Reuseskare het hierdie geskiedkundige wedstryd bygewoon en rugby van ’n goeie gehalte is gelewer. ’n Mens kon die spanning en die verwagtinge in die lug voel en die spelers het gewis nie teleurgestel nie.
Voor die wedstryd het talle oudspelers van albei klubs ’n ererondte om die veld gestap saam met die ma van Trevor Maarman (rugbyspeler) wat ’n paar weke gelede in die Bergrivier in die Paarl tragies verdrink het. Ná die emosionele oomblik en die voorstelling van die spelers aan die Saru-visepresident, Francois Davids, en die voorsitters van albei klubs, het die aksie begin.
Newton-Villagers het met ’n stink spoed weggespring en was binne tien minute 8-0 voor.
Die Bombelas moes keer vir ’n vale en die aanslag het soos die golwe van die see gekom. Hulle kon egter die aanslag afweer en het geantwoord met ’n solo- lopie deur die flank Brendon Adriaanse. Die manne het gaan water drink met Newton-Villagers in die voortou met 11-7.
Ná rustyd het Newton-Villagers onmiddellik teruggeslaan met ’n drie en die telling was skielik 16-7.
Die Bombela-afrigter is gedwing om sy bomb squad op te stuur en binne minute moes Newton-Villagers twee keer agter die doellyn staan toe eers Keaton Booysen (vleuel) soos ’n vlakhaas vir almal hakskene gewys het en daarna Wilfred Bowers (losskakel) soos ’n warm mes deur botter gesny het om onder die pale af te rond.
Hierna was dit net eenrigtingverkeer soos die blou Bombela-golf oor die veld gespoel het.
Verdere drieë deur JP Smith (senter) en Ulrich Abrahams (skrumskakel) het die eindtelling 43-23 gemaak.
Uitblinkers was weer Collin April (nr. 8) en Wilfred Bowers (losskakel) wat die wedstryd soos ’n wafferse generaal hanteer het.
Die Williams-trio – Shane-Cole, Gary en Riaan – het heelwat vuur verskaf en die skare met hul hardlooplyne op hul tone gehad.
Ander uitslae: Tweede span Newton 24-19 en derde span 17-17.. Newton speel hierdie naweek tuis teen ’n omgekrapte Saron-rugbyklub op Bombelapark en hope aksie word verwag.





