Newton (Bombelas) het Saterdag in ’n baie opwindende derbywedstryd met Hillcrest United afgereken.
Die Bombelas het eerste punte aangeteken nadat die ervare Alshaun Bock die bal deurgedribbel het, waarna Keaton Booysen die bal met ’n perfekte aangee bemeester en na die heelagter Albert Billings uitgegee en hy in die hoekie gaan druk het. Theodore Marinus het die bal uit ’n moeilike posisie perfek oor die dwarslat laat seil.
Hierna is Hillcrest vir onkant spel gestraf en Marinus het die strafdoel oorgeklits; Newton was 10-0 voor en in beheer van die wedstryd.
Hillcrest het egter nie loop lê nie en hard teruggeslaan met ’n langafstand-drie deur Shadick Benjamin om die telling 10-7 te maak.
Hierna het Theodore Marinus weer ’n strafdoel aangeteken (telling: 13-7).
Hillcrest het steeds veggees getoon en met ’n drie deur Mitchell Jacobs geantwoord.
Teen halftyd het die telbord 16-12 in Newton se guns aangedui.
Met die aanvang van die tweede helfte het die windhond-vleuel Keaton Booysen sy klas gewys en ’n pragtige drie gaan druk (telbord skuif aan na 21-15).
Hillcrest United het steeds veggees getoon en Duran Bastiaan het onder die pale gaan druk om die trant van die wedstryd die eerste keer in Hillcrest se guns te swaai (telling: 21-22).
Met slegs vyf minute se speeltyd oor, het groot drama aangebreek toe Marinus nie daarin geslaag het om ’n langafstand-strafskop oor te stuur nie.
Hillcrest het verwoed aangeval, maar kon net nie deur die sterk verdediging van Newton breek nie.
Newton se agtal het behoorlik tande vir Hillcrest gewys en sy teenstanders in die vaste-los in die grond geboor en harde bene in die skrums laat kou.
Agterlangs het die ervare Boland-Kavaliers-spelers Alshaun Bock en Theodore Marinus gewys waarom hulle so hoog aangeslaan word met briljante balverspreiding en klipharde lakwerk.
Kort hierna is Hillcrest weer vir onkantspel gestraf en in die hitte van die stryd het Marinus weer daarin geslag om die strafskop tussen die pale deur te stuur.
Die drama was egter nog nie verby nie, en Hillcrest het ’n strafskop op die middelkolletjie gekry, maar sy losskakel, Kieran Dreyden, se visier was nie ingestel nie.
Die Bombelas het uiteindelik die harde stryd 24-21 gewen.. Newton speel hierdie naweek weg in die Appelland teen ’n hoogaangeskrewe Delicious-span van Ceres.





